Central SA
Vermeende moordenaar van Noord-Kaapse blitspatrollielede vir waarneming verwys─── HEIDRÈ MALGAS 16:31 Thu, 05 Oct 2023
“Die rede waarom dit tot volgende jaar uitgestel is, is omdat die lys baie lank is van beskuldigdes wat deur dieselfde proses moet gaan.”
Daniel Wilfred Alberts (38), ’n vermeende moordenaar en kaper wat in Augustus aangekla is van die moord op twee blitspatrollielede in Kimberley, het Woensdag (4/10) in die hof verskyn. Sy saak is tot 29 Januarie uitgestel.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê Alberts gaan vir 30 dae vir sielkundige waarneming gestuur word.
“Die rede waarom dit tot volgende jaar uitgestel is, is omdat die lys baie lank is van beskuldigdes wat deur dieselfde proses moet gaan.”
Dries Wilfred Alberts was in Augustus in ’n ongeluk betrokke toe hy van die polisie probeer vlug het. Foto verskaf
Die polisie het destyds inligting ontvang dat ’n motor in Bloemfontein gesteel is en onderweg was na Kimberley. Sers. Kediemetse Masilo (45) en konst. Okaetse Mandini het die voertuig opgemerk toe dit Kimberley binnery en dit agtervolg. In die jaagtog het hy ‘n ongeluk gemaak en hulle daarna doodgeskiet.
OFM Nuus het vroeër berig dat Alberts tereg staan op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, een van motordiefstal en een aanklag van diefstal.
Senokoatsane sê die verslag van sy waarneming sal aan die hof verskaf word omdat Alberts aangedui het dat hy in die verlede in verskeie psigiatriese hospitale opgeneem was. Die polisieondersoek duur voort.