On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Aanvaarding van Bela-wetsontwerp geen verrassing nie

───   ELSABÉ DE JAGER 15:25 Tue, 26 Sep 2023

Aanvaarding van Bela-wetsontwerp geen verrassing nie | News Article
Alana Bailey tydens ’n vorige gesprek oor die wysigingswetsontwerp. Foto: Afriforum

Onderwys word wêreldwyd as ’n grondliggende element van selfbeskikking beskou.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys het die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wet) vandag aanvaar.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, sê die ANC- en EFF-lede van dié komitee word vir die aanvaarding van die wet verantwoordelik gehou. Verskeie uitsprake van die komiteelede het dit duidelik gemaak dat hulle in geen insette van die publiek belangstel, tensy dit met hul eie ideologiese oortuigings en agenda ooreenstem nie.

Weens die ANC- en EFF-komiteelede se houding, het AfriForum reeds lankal gelede begin met die voorbereiding vir regsaksie indien die wetsontwerp na oorweging deur die Nasionale Vergadering, Nasionale Raad van Provinsies en die president aanvaar en inwerking gestel sal word, ná vandag se besluit.

Moedertaalonderrig is belangrik vir elke kind. Foto: Freepik

Onderwys word wêreldwyd as ’n grondliggende element van selfbeskikking beskou. In hierdie aanvaardingsproses het die portefeuljekomitee ’n grondwetlike artikel oor selfbeskikking in dié verband geïgnoreer, sê Bailey.

Die ANC- en EFF-lede van die komitee het opnuut bewys dat hulle die land wil dwing om weg van moedertaalonderrig na eentalige swak Engelse onderrig te beweeg. Ten einde ideologiese doelstellings te bereik, word nie gehuiwer om die jeug se toekoms op die spel te plaas nie.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-woordvoerder oor basiese onderwys. Foto verskaf

Volgens die VF Plus sal prosedurele probleme in die aanloop tot vandag se stemming ondersoek word en waarskynlik voor die hof gebring word. Dit is egter belangrik om daarop te wys dat die beswaar daarteen eerstens inhoudelik en nie prosedureel is nie. Dié party sit ook sy stryd teen die Bela-wetsontwerp voort.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.