Central SA
Mev. Heelal SA: Vrystaatse vrou as semifinalis aangewys─── HEIDRÈ MALGAS 15:33 Thu, 24 Aug 2023
Adéle Fourie van Bethlehem is gekies as een van die semi-finaliste om moontlik Mev. Heelal Suid-Afrika te word.
Fourie sê dis ’n groot voorreg en iets wat sy glad nie verwag het nie. Sy is aangemoedig deur 'n vriendin wat oortuig was dat sy goed daarin sou vaar.
Mev. Heelal SA is ’n skoonheids-en-veelsydigheidskompetisie waaraan getroude en geskeide vroue, asook weduwees kan deelneem.
Dit is sakevroue en entrepeneurs van Suid-Afrika wat graag 'n verskil wil maak in die bekamping van gesinsgeweld, asook mishandeling van vroue en kinders.
Sy sê daar word van die 22 semifinaliste verwag om gemeenskapsprojekte te begin en geld in te samel vir organisasies wat dit benodig. “Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om organisasie in Bethlehem of omliggende dorpe te nooi wat hulp benodig.” .
Adéle Fourie het haar oog op die kroon van die Mev. Heelal Suid-Afrika-kompetisie. Foto: Verskaf
Fourie se gunstelingstokperdjie is om te sing.
“Sang (en enige vorm van musiek) is beslis my groot liefde. Ek tree gereeld op en het onlangs ’n rol gespeel in die blyspel: Jorrieville. Ek hou baie van toneelspel.”
Sy sê God het vroue spesiaal gemaak om ’n sagte hart te hê om ander met empatie en vriendelikheid te kan help. Fourie is op Bethlehem gebore en was in Jordania en Witteberg op skool.
Die wenner sal Suid-Afrika in Amerika gaan verteenwoordig in die Mev. Heelal-kompetisie.
“Dis voorwaar ’n voorreg om as semifinalis gekies te word. Dis ook ’n groot verantwoordelikheid om nuwe skoene vol te staan in jou gemeenskap en daadwerklik ’n verskil te maak in mense se lewe, waar dit broodnodig is.”
Die finaliste word op 28 Oktober 2023 aangewys.