Central SA
Upington-brandweerstasie ‘bouvallig, onveilig’─── 13:33 Mon, 21 Aug 2023
Die brandweerstasie op Upington het nie buitedeure nie, toegangshekke kan nie sluit nie en binnedeure het nie slotte nie.
Die VF Plus op Upington, wat onlangs die stasie besoek het, sê die party gaan druk op die munisipale bestuur plaas om dringend aandag aan die haglike toestande te gee.
“Die gebou is ’n deurloop met geen hekke of buitedeure wat kan sluit nie. Meeste van die deure in die stasie het nie meer deurslotte nie. Die buitegeboue se deurrame roes deur en deure val van hul skarniere af,” sê Hennie Roux, VF Plus-raadslid in die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit.
‘Toestand van gebou en toerusting is skokkend’
Hy het die stasie saam met Danie Coetzee, VF Plus-lid van die Noord-Kaapse wetgewer, besoek.
Die ablusiegeriewe is vervalle. Foto: Facebook/VF Plus – Dawid Kruiper
“Die toestand van die gebou en toerusting is skokkend. Dit is onaanvaarbaar dat enige persoon in sulke omstandighede moet werk. Die beheerkamer se veiligheidshekke is onvoldoende. Met veral vroue wat snags die noodtelefoonlyne beman, is dit onveilig om selfs die ablusiegeriewe te gebruik.”
Roux sê die ablusiegeriewe is in ’n bouvallige toestand, al probeer die personeel dit skoon hou. Foto’s op Facebook wys krane wat lek en gevlekte wasbakke.
Upington het net een brandweerwa, wat volgens die VF Plus onvoldoende is vir die gebied wat dit bedien. Foto: Facebook/VF Plus – Dawid Kruiper
Volgens hom is die noodtoerusting in ’n haglike toestand, en hy het die volgende uitgewys:
- Onvoldoende toerusting om chemikalieë of brandstof wat gestort het, op te ruim. Die toerusting wat hiervoor gebruik word, is verouderd, geroes en onbruikbaar;
- die sleepwa se wiele is pap en onpadwaardig;
- die skuimtoerusting wat vir petrolbrande gebruik word, staan toe onder die stof in die skuimstoor. Die toerusting is ook onbruikbaar, glo omdat onderdele nie meer beskikbaar is nie;
- en ’n Land Cruiser-bakkie se brandbestrydingstoerusting is foutief en onderdele moeilik bekombaar. Die voertuig kan nie vir kleiner brande gebruik word nie.
“Ek twyfel of enige van die toerusting in die brandweerstasie aan die minimum standaarde van veiligheid voldoen.”
Die brandweerwa is wel bruikbaar, maar onvoldoende vir die omgewing wat dit bedien.
“Upington het ’n uitgebreide sakegebied met verskeie geboue wat drie tot vyf verdiepings hoog is. In die geval van 'n brand sal dié geboue skaars deur die brandweerwa bereik word.
Lof vir personeel se toewyding en vernuf
Hy het sy lof uitgespreek vir die brandweerstasie se personeel se toewyding en vernuf, ondanks moeilike werkomstandighede.
“Hulle het weer onlangs belangrike brandbestrydingswerk verrig tydens ’n huisbrand in die omgewing van Jooste-eiland.”
Die brandweergebou word nie meer na behore in stand gehou nie met verskeie binnedeure wat nie gesluit kan word nie. Foto: Facebook/VF Plus – Dawid Kruiper
Hy skryf die verval van die brandweerstasie toe aan befondsing en onvoldoende bestuur. “Dit is onverklaarbaar dat miljoene rande wat vir dienslewering geoormerk was, gebruik is om die Mxolisi Dick Jacobs-stadion vir die Upington City-sokkerklub op te knap.
“Die Noord-Kaapse provinsiale regering behoort in te gryp en die Upington-brandweerstasie van fondse en toerusting te voorsien.”
Brandweerwa as ‘taxi’ ingespan
Die dorp se enigste brandweerwa was September verlede jaar in die nuus toe dit blyk dit is as ’n “taxi” ingespan. Die DA het toe geëis dat dissiplinêre stappe gedoen word nadat die voertuig gebruik is om personeel huis toe te vervoer terwyl ’n brand in die dorp uitgebreek het.