Central SA
Jani Allan sterf in Amerika─── ELSABÉ DE JAGER 12:41 Thu, 27 Jul 2023
“The anthracite trees with their curious fingers ... the delicate deer. This is a place of such beauty. I cannot believe what I have done to deserve it.”
So beskryf Jani Allan ’n paar maande gelede op ’n sneeuoortrekte aand in Pennsilvanië die uitsig vanaf haar stoep.
Allan, deur Daily Maverick beskryf as een van die invloedrykste Suid-Afrikaanse joernaliste en rubriekskrywers ooit, is Dinsdag in Amerika oorlede. Yvonne Meintjies, ’n goeie vriendin, was langs haar bed in die hospies van Chandler Hall Health Services in Newton, Pennsilvanië, ten tye van haar afsterwe. Allan was 70.
In sy huldeblyk aan haar skryf Herman Lategan, joernalis en jarelange vriend, hoewel die wêreld dikwels wreed was met haar, het sy altyd haar kop omhoog gehou.
Samestelling van Jani Allan se rubrieke. Foto: Facebook
Allan was in 1989 in ’n skandaal betrokke ná bewerings van ’n verhouding tussen haar en Eugene Terre’Blanche, leier van die AWB. Sy het haar werk as rubriekskrywer vir die Sunday Times kort ná die gerugte verloor. Nadat haar woonstel deur ’n bom getref is, het sy na Londen gevlug. In 2001 het sy haar in New Jersey in Amerika gevestig waar sy jare lank as kelnerin gewerk het.
Lategan sê die stories wat die ronde gedoen het oor Allan en Terre’Blanche het haar gebreek. Sy het deur al die jare die gerugte ten sterkste ontken. Terre’Blanche is op 3 April 2010 op sy plaas buite Ventersdorp deur een van sy plaaswerkers vermoor.
Hoewel Allan steeds aangehou het met vryskutwerk in Amerika, het sy baie arm geword en moes daarom in koffiekroeë werk om aan die lewe te bly. Lategan sê sy was bekend vir haar sin vir humor. Sy sou nooit iemand veroordeel nie. Sy was ook altyd oop vir kommentaar en alle tipe denkwyses, van verregs tot verlinks.
Jani Allan. Foto: Facebook
Nadat kanker drie maande gelede by Allan gediagnoseer is, was die pad na aanvaarding aanvanklik moeilik. Dalk het sy verlang na ’n laaste kuier in haar geliefde Suid-Afrika, dalk na ’n laaste winteruitsig vanaf haar stoep in die vreemde wat haar tuiste geword het. Sy verwys na Woody Allen se uitkyk op die dood in haar groetboodskap aan Lategan: “He said that he wasn’t afraid of dying. He just didn’t want to be there when it happened.”
OFM Nuus/Elsabé de Jager