Central SA
Bloemfontein se kerke vier saam fees─── ELSABÉ DE JAGER 14:39 Wed, 26 Jul 2023
Nie net put gemeentes finansiële gewin uit hierdie saamwees nie, maar standhoudende vriendskapsbande word oor kerkgrense heen gesmee.
Ná verlede jaar se handevat sien Bloemfonteiners uit na nóg ’n gesamentlike basaar wat in die suide van die stad deur gemeentes van verskillende kerkgenootskappe aangebied word.
Dr. Enrico Casaleggio, predikant van die NG Gemeente Fichardtpark, sê die wonderlike wyse waarop verskillende kerke verlede jaar saam feesgevier het, het alle verwagtinge oortref. Hy meen vanjaar se byeenkoms sal verlede jaar s’n oortref.
Volgepakte kostafels wag op basaargangers.
Kerke wat Vrydag (28/7) van 12:00 deelneem aan hierdie feestelikheid in Altonasingel, Fichardtpark, is Therapea Volle Evangelie Kerk, Lede in Christus, die Hervormde kerk Bloemfontein-Wes en die Gereformeerde kerk Bloempark. Die NG Gemeentes Fichardtpark, Fichardtkruin, Fauna, Pellissier, Leeuwberg, Brandfort-Oos, Bloemfontein-Wes, Gardeniapark, Hopitaalpark en Uitsig slaan ook tafels op.
Daar sal tot laataand feesgevier word by die basaar.
Afgesien van kosstalletjies wat vol gepak sal wees met die Ware Jakobs van ’n basaar, soos boerewors, kerrie-en-rys, sosaties, vetkoek en soetgoed, sal daar ook ander ware verkoop word. Kinders kan na hartelus deelneem aan spanspeletjies.
Casaleggio sê die opwinding loop hoog en dit sal ’n dag wees wat gelowiges saam kan geniet.
OFM Nuus/Elsabé de Jager