On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Fietse gaan getrap word vir opvoeding

───   08:11 Mon, 10 Jul 2023

Fietse gaan getrap word vir opvoeding | News Article
Die vorige fietstoer het in 2021 plaasgevind. Foto verskaf

Hulle glo vas dat toekomstige leiers behoorlike opvoeding benodig.

Daarom het dié nie-winsgewende organisasie, die Thomson Smillie-stigting, ’n inisiatief van stapel gestuur om fietsryers se speke te laat sing in ’n landwye fietstoer om hopelik die geld te laat inrol.

So sê Annie Janse van Rensburg, die toerbestuurder van die fietstoer wat einde Augustus vanaf Pont Drift (teen die Botswana-grens, naby Alldays) tot in Kaapstad plaasvind. ’n Groep van nege fietsryers gaan oor ’n tydperk van twaalf dae ’n afstand van 2090 km aflê om geld in te samel. Dit gaan aangewend word vir die organisasie se opvoedkunde-program. Die begunstigde is die Hoërskool Vishoek in Kaapstad. Drie leerlinge se skoolfonds gaan ten volle betaal word. Dit is die tweede keer wat die fietstoer gedoen word.


“Ons organisasie speel ’n rol daarin om minder bevoorregte gemeenskappe in staat te stel om gehalte-onderrig te ontvang,” sê sy.

Die toer begin op 27 Augustus en eindig op 8 September. Parys, Theunissen, Bloemfontein en Trompsburg is sommige van die Vrystaatse dorpe waar die fietsryers gaan stop.

Twaalf dae en 2100 km later het 'n groep van nege fietsryers ná die vorige toer in September 2021, van Pont Drift in Kaapstad aangekom. Foto: stsolutions.co.za

Janse van Rensburg sê die nege fietsryers sal deur ’n ondersteuningspan vergesel word.

Peter Thomson, die hoof uitvoerende beampte, van die organisasie, gaan self die fietstoer doen. “Ons het werklik ’n passie vir opvoeding en glo dit is een van die maniere hoe ons dinge in Suid-Afrika kan verander.” Hy sê daar is soveel mense hier wat eenvoudig nie toegang tot opvoeding het nie. “Dit was werklik 'n spanpoging om hierdie toer te laat gebeur.”

Hy skerts deur te sê omdat hulle van noord na suid ry, kan mense dalk dink die hele pad is afdraande. “Maar dit is nie die geval nie. Daar is ’n hele paar oppe langs die pad.”

Enigiemand wat belangstel om betrokke te raak as ’n borg of wat volgende jaar wil saamry, kan die oranisasie se webtuiste besoek. Die fietstoer kan ook op die webtuiste gevolg word.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.