On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

Vloedskade kan tot noodtoestand in Namakwaland lei

───   08:37 Fri, 30 Jun 2023

Vloedskade kan tot noodtoestand in Namakwaland lei | News Article

Afgesien van hoop het Namakwalanders die afgelope twee weke ervaar dat te veel water ook hartseer kan bring.

’n Plaaslike noodtoestand sal waarskynlik op Vrydag 30 Junie afgekondig word weens vloedskade.

Die afgelope tyd se ongekende hoeveelheid reën het alle riviertjies, stroompies en riviere laat vloei.

Soveel só dat grootskaalse oorstromings en skade in veral die Nama Khoi-munisipale gebied by Springbok aangerig is.


Volgens die munisipale woordvoerder, Jason Milford, was daar waarskynlik ook lewensverliese.

Intussen het Randall Cable van die nasionale padagentskap, SANRAL, bevestig dat die N7 duskant die Vioolsdrift-grenspos (Vyf Myl Poort), Donderdag (29/5) gesluit is weens hewige padverspoelings.


Motoriste uit Namibië is genoodsaak om deur Alexanderbaai-grenspos na Suid-Afrika te reis.

Weens die swaar reën het ’n gedeelte van die Spektakelbergpas na Komaggas en Kleinzee ook weggespoel. ’n Brug het ook Donderdagaand in Kleinzee meegegee, volgens Veronica van Dyk, LP vir Namakwaland.

Inwoners jubel egter oor die Buffels- en Skaaprivier wat weer ná jare vloei. Ongelukkig is daar waarskynlik lewensverliese.

Volgens die polisie op Komaggas was een persoon Woensdag op ’n trekker meegesleur en nog nie gevind nie.

’n Brug het ook Donderdagaand in Kleinzee meegegee. FOTO: Facebook

In ’n ander voorval het die water ses persone in ’n voertuig oorval. Twee was ongedeerd en die ander vier word steeds vermis.

Reddingswerkers het intussen een persoon gered wat in ’n boom geskuil het.

’n Ander persoon wat die rivier wou oorsteek, word steeds vermis, volgens inwoners.

Die plaaslike Nama Khoi-munisipaliteit is tans in konsultasie om ’n plaaslike noodtoestand te verklaar, volgens Milford. Hulle hoop op provinsiale en nasionale hulp weens skade van miljoene rande.

OFM Nuus/Isaac Cloete




@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.