On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Joemat-Pettersson onthou vir haar toewyding

───   TSHEHLA KOTELI 11:43 Tue, 06 Jun 2023

Joemat-Pettersson onthou vir haar toewyding | News Article
Kimberley-gebore Tina Joemat-Pettersson (59) is Maandag oorlede.

Die Kimberley-gebore Tina Joemat-Pettersson (59), voormalige minister van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye wat Maandag (5/6) oorlede is, is deur haar kollegas beskryf as 'n ‘toegewyde parlementslid’.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald sê hy sal altyd onthou hoe sy in haar toesprake genoem het dat staatsamptenare verantwoording moet doen aan die mense van Suid-Afrika.

Joemat-Pettersson was ten tye van haar dood die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie.

Groenewald sê sy het nie geskroom om die topbestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens skerp te kritiseer nie.

"Sy het altyd gesê dit gaan nie oor partypolitiek nie, maar dit wat in die beste belang van die mense van die land is. In daardie sin was sy 'n baie toegewyde persoon en 'n parlementslid.”

Staatsamptenare moet verantwoording doen aan die mense van Suid-Afrika. – Tina Joemat-Pettersson

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, sê sy sal gemis word. “Ons gedagtes en gebede is by haar familie, vriende en haar kollegas in die parlement. Sy het 'n lang loopbaan as ’n minister gehad en het op die polisieportefeuljekomitee gedien om te verseker dat die nasionale uitvoerende gesag aan die parlement verantwoordbaar is.

“Haar dood is soveel hartseerder weens die baie terugslae in haar persoonlike lewe. Sy het nie 'n maklike lewe gehad nie en het soms daardie stories met kollegas in die parlement gedeel."

LEES OOK: Joemat-Pettersson to face action if implicated - Mantashe

Joemat-Pettersson het onlangs die bewerings weerlê dat sy gepoog het om omkoopgeld te vra om die ondersoek teen Busisiwe Mkhwebane, geskorste Openbare Beskermer, te laat verdwyn.

Sy was nie die enigste een teen wie bewerings gemaak is nie: die ANC-hoofsweep in die parlement, Pemmy Majodina, en die voorsitter van die artikel 194-ondersoek wat Mkhwebane se geskiktheid om die amp te beklee ondersoek, Richard Dyantyi, is ook daarvan beskuldig. Hulle het na bewering probeer om omkoopgeld van Mkhwebane se man te eis. Die bewerings is ontken.

Die oorsaak van Tina Joemat-Pettersson se dood is nog nie bekend nie.

Woordvoerder van die Valke, Thandi Mbambo, het bevestig dat hulle die bewerings ondersoek nadat Mkhwebane se man 'n kriminele saak geopen en bewyse oorhandig het.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.