On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Oud-Springbok uit hospitaal ontslaan, pa kritiek ná plaasaanval

───   MORNÉ VAN ROOYEN 21:19 Sun, 28 May 2023

Oud-Springbok uit hospitaal ontslaan, pa kritiek ná plaasaanval | News Article
Lukas van Biljon se seuns moes toekyk hoe sewe gewapaende mans hul pa en oom André aanval. Foto: Facebook

’n Voormalige Springbokhaker is uit die hospitaal ontslaan, maar sy pa verkeer nog in ’n kritieke toestand ná ’n plaasaanval Saterdagoggend in die Noord-Vrystaat.

Luidens berigte het minstens sewe gewapende mans Lukas van Biljon en sy pa André in die vroeë oggendure op hul plaas by Oranjeville oorval. Die gewese haker is meermale gesteek terwyl sy pa drie maal in die bors geskiet is.

OFM Nuus verneem Van Biljon se jong seuns was teenwoordig tydens die aanval op hul pa en oupa. Die aanvallers het na bewering gedreig om die seuns om die lewe te bring as Van Biljon nie vir hulle geld gee nie.

André van Biljon is drie keer in die bors geskiet en verkeer in ’n kritieke toestand in die hospitaal. Foto: Facebook

Martin van Biljon, Lukas se broer, het Saterdag op Facebook geskryf ’n mens hoor van plaasaanvalle en -moorde, maar dit word eers ’n werklikheid wanneer dit met jou eie mense gebeur. “My hart is stukkend vandag. Hoe kan mens so wreed wees? Ons mag nie haat en wraak neem nie, maar ek vind dit moeilik op dié Saterdag.

‘Dit is nie hoe ons veronderstel is om te leef nie’

“Wat kan mens doen as jy wakker gemaak word met ’n 9 mm teen jou kop? Lukas vasgemaak, hom herhaaldelik met ’n mes gesteek. Hom geskop; gesê hulle gaan sy seun voor hom doodskiet as hy nie geld wil gee nie. My ouboet drie keer in sy bors geskiet …  Kinders darem gespaar.”

“Dit is nie hoe ons veronderstel is om te leef nie,” skryf Johnny Burger op Facebook. “Vrees elke dag met die wete enige iets kan om elke hoe gebeur.”

Die aanvallers het Lukas van Biljon, sy seuns en pa in die vroeë oggendure in Lukas plaashuis buite Oranjeville oorval. Foto: Facebook 

Hy vra dat mense vir die Van Biljons sal bid en maan boere om versigtig te wees. “Dit word vir seker nie beter nie. Pas julle mense met alles op. Wees wakker. Mens dink nooit dit kan met jou gebeur nie.”

“Dit is baie duidelik dat die Suid-Afrikaanse regering nie ’n plan het wat gaan werk om plaasaanvalle te verhoed nie,” sê Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier in reaksie op die aanval. 

“Daarom doen ons ’n ernstige beroep op boere om hulleself te beveilig en hulleself te verdedig binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse Grondwet, soos wat die Grondwet ook aan ons toelaat.”

‘Dit is belangrik dat ons druk uitoefen’

Van Niekerk sê dit gebeur te dikwels dat misdadigers wat op parool is of die verdagtes wat op borgtog uit is, met plaasaanvalle verbind. “Wat dit baie duidelik maak dat Suid-Afrikaanse burgers deur die regstelsel van ons staat eintlik versaak word. Dit is belangrik dat ons druk uitoefen ook om seker te maak dat hierdie mense agter tralies bly.”

Die VF Plus sal hierdie saak monitor om seker te maak dat die mense wat verantwoordelik was vir hierdie aanval, gearresteer word en aan die kaak ry, sê Van Niekerk.

Lukas van Biljoen het tussen 2001 en 2003 altesaam 13 keer in toetswedstryde vir die Springbokke gespeel en vyf keer in die Rugbykampioenskap. Dié boorling van Bloemfontein het vir verskeie provinsiale spanne uitgedraf, waaronder die Haaie en die Stormers.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.