Central SA
Kommer oor sluiting van Welkom DBV─── HEIDRÈ MALGAS 15:12 Tue, 09 May 2023
![Kommer oor sluiting van Welkom DBV Kommer oor sluiting van Welkom DBV | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/e24a4772-a61e-4bd3-ae62-f86710eb25d0.jpg?crop=0,0,800,450)
Die Dierebeskermingsvereniging in Welkom moet dalk sy deure sluit nadat die bestuurskomitee bedank het.
’n Woordvoerder van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging, Tercia Woest, sê op 2 Mei 2023 het die voorsitter van Welkom se DBV sy bedanking om persoonlike redes en werkverpligtinge ingedien.
“Die volgende dag het die ander twee komiteelede hul bedanking ingedien, maar geen redes verskaf nie. Hulle het wel aangedui dat hulle steeds bereid is om die Welkom DBV by te staan,” sê Woest.
Dit is onduidelik wanneer die DBV sy deure sal moet sluit.
Sy sê hulle hoop dat ’n welsynsorganisasie met ‘n sakeplan na vore sal kom, maar andersins sal hulle staatmaak op CLAWS en die staatsveeartse.
“Die Virginia DBV en die Nasionale DBV sal ook soms daar wees om seker te maak dat diere nie mishandel word nie,” sê sy.
Vir enige noodgevalle of dieremishandeling stuur ’n e-pos na nspca@nspca.co.za of bel 011 907 3590.