On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Suster Marie gee aan die ouderdom vleuels

───   14:43 Tue, 09 May 2023

Suster Marie gee aan die ouderdom vleuels | News Article

‘n Dapper non van Kroonstad se waagmoed lei binnekort tot nuwe hoogtes. Op 13 Mei neem sr. Marie McLoughlin (83) deel aan ’n tandem-valskermsprong, ’n “geloofsprong” soos sy dit noem, in Parys.

Sr. Marie, bekend vir haar omgee en liefde vir haar medemens, veral dié in nood, het met ‘n fondsinsameling vir die Notre Dame St Peter’s School (NDSPS) in Kroonstad begin. Sy is ook lid van die beheerliggaam van die skool. NDSPS, met leerders vanaf gr. R tot gr. 12, is vir sy voortbestaan afhanklik van skoolgeld, fondsinsamelings en ‘n beperkte subsidie van die Departement van Onderwys. 


Sr. Marie beplan die totstandkoming van ‘n instandhoudingsfonds en voedingsfonds vir die skool met haar sprong. Vir hierdie weldaad staan die leerders, hoofsaaklik vanuit die nabygeleë woonbuurt Maokeng, dankbaar en bankvas agter haar.

Die eienaar van die Parys Valskermklub, Chris Moller, sê sy het die klub reeds vier jaar gelede besoek en haar plan aan hom voorgelê. Hoewel die Covid-19-pandemie dit gekelder het, het sy nie van plan verander nie. Moller is trots daarop dat die valskermklub saam met ander die geleentheid kan borg. Sy is die oudste valskermspringer in die bestaan van die klub.

Sr. Marie is slaggereed vir die dag. Nadat al die administrasie Saterdagoggend vroeg afgehandel is, sal sy touwys gemaak word oor die vryval- en die landingsproses. Moller sal haar instrukteur wees en sê haar entoesiasme is ‘n riem onder die hart.

Sy klim daagliks die drie verdiepings na haar woonplek in die Nortre Dame-klooster in Kroonstad sonder om een keer te  stop. Dit is haar eerste valskermsprong en sy pak dit aan met die durf van jeugdigheid wat nog vlak in haar oë lê, en ‘n stemtoon wat bloedjonk val op die oor.

OFM Nuus/Elsabé de Jager


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.