Central SA
Hanekom se ‘Mirre en aalwyn’ vir sewe Kannas benoem─── 11:52 Tue, 25 Apr 2023
Die dramaturg Nicola Hanekom se plekspesifieke drama, 'Mirre en aalwyn', is vir sewe Kanna-pryse benoem ná afloop van vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), wat van 1 tot 9 April 2023 in Oudtshoorn plaasgevind het.
Die aktrise Amalia Uys is benoem vir haar vertolking van Jessie, ’n “verlore dogter” wat ná ’n lang tyd weer op die familieplaas opdaag. Mirre en aalwyn, wat besin oor temas soos die vrou se netelige posisie in die wêreld, kitsroem en sosiale media, is ook benoem as die beste algehele aanbieding op die fees.
Hanekom se teks en haar regie, asook die ontwerp en vertolking van ’n ensemble, is benoem terwyl die jong aktrise Alyssa van Heerden as die beste opkomende kunstenaar benoem is.
Slegs die 27 debuutproduksies by die fees is vanjaar vir Kannas in aanmerking geneem, met die uitsondering van benoemings vir opkomende kunstenaar.
Teaterproduksies wat ook met ’n handvol benoemings spog, is Mirakel uit die pen van Reza de Wet en onder regie van Marthinus Basson, Droomkraan Kronieke, die fisieke teaterstuk wat deel was die KKNK se Karoo Kaarte-projek en Ver in die wêreld Kittie, David Kramer se nuwe musiekspel, wat elk vir vyf Kannas benoem is.
Die fel omstrede kroon van Edward II & Gaveston, ook onder regie van Basson met teks deur Tom Lanoye, het drie benoemings ontvang. Drie lede van die geselskap uit die klug Afval, ’n produk van die US Dramadepartement se Première Teaterfees, is in die kategorie vir opkomende kunstenaar benoem.
Woordmusiek met teks, regie en musiek deur Coenie de Villiers het twee benoemings ontvang.
Sameroeper van die Kannapaneel, Rafiek Mammon, sê in ’n verklaring vanjaar se besprekings was “moeilik en uiteenlopend, met werke van hoogstaande en uitnemende gehalte wat gesien is”.
“Dit is tog hoe dit hoort. Ons moet daardie besprekings hê om die moeilike besluite te neem en betekenisvolle vooruitgang te laat geskied."
Vanjaar se Kannapaneel was Mammon, Diane de Beer, Ilse Klink, Felicia Lesch en Fahiem Stellenboom. Die Kannas word op 5 Mei 2023 in Franschhoek oorhandig. Die 28ste KKNK vind van 23 tot 31 Maart 2024 plaas.
Die volledige lys van Kanna-benoemings is:
Kanna vir beste aanbieding – toneel:
Droomkraan Kronieke
Mirakel
Mirre en aalwyn
Kanna vir beste aanbieding – musiek:
Anders/Eenders
Passi | Passio | Pasión \ Passion
Ver in die wêreld Kittie
Woordmusiek
Kanna vir beste aanbieding – visuele kuns:
Dumisani Mabaso – Untitled: Dumisani Mabasa
Johan Stegman – ’n Goeie dag vir ’n slag
Lebohang Kganye – Into the Light
Liza Grobler – Inkommers, laatkommers & laatlammers, asook die Droom-installasie
Kanna vir beste vertolking:
Amalia Uys – Mirre en aalwyn
André Roothman – Die fel omstrede kroon van Edward II & Gaveston
Dawid Minnaar – Mirakel
Dean Balie – Ver in die wêreld Kittie
Kanna vir beste literêre bydrae:
Die fel omstrede kroon van Edward II & Gaveston – vertaling
Droomkraan Kronieke – oorspronklike teks
Mirre en aalwyn – oorspronklike teks
Ver in die wêreld Kittie – oorspronklike teks
Kanna vir beste regisseur:
David Kramer - Ver in die wêreld Kittie
Marthinus Basson – Mirakel
Neil Coppen, Craig Leo en Tiffany Saterdaght – Droomkraan Kronieke
Nicola Hanekom – Mirre en aalwyn
Kanna vir beste ensemble:
Droomkraan Kronieke
Mirakel
Mirre en aalwyn
Ver in die wêreld Kittie
Woordmusiek
Kanna vir beste ontwerp en tegniese bydrae:
Die fel omstrede kroon van Edward II & Gaveston – stelontwerp en kostuums
Droomkraan Kronieke – ontwerp en konsep
Mirakel – stelontwerp, rekwisiete en kostuums
Mirre en aalwyn – ontwerp en konsep
Kanna vir beste aanbieding – kinderteater:
Ko’ laat ôs speel
Liewe Heksie vang vis
Kanna vir beste opkomende kunstenaar:
Alyssa van Reenen – Mirre en aalwyn
Gita Fourie – Afval (teks)
Mia van der Merwe – Afval
Nichola Viviers – Afval
Die Herrie-prys vir innovasie of grensverskuiwende werk, Slurpie-prys en ’n Kanna vir uitnemende tegniese bydrae word tydens die geleentheid oorhandig.