Central SA
Bekende boer in hof oor poging tot moord─── 05:40 Wed, 29 Mar 2023

‘n Bekende boer (40) van Calvinia in die Noord-Kaap sal na verwagting Woensdag (29/3) in die hof verskyn nadat hy Maandag in hegtenis geneem is vir poging tot moord.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder, sers. Sam Timothy, spruit sy inhegtenisname uit ‘n voorval waarin ‘n plaaswerker glo doelbewus omgery is.
Die voorval het Saterdag op die plaas Perdekloof gebeur. Goodson Mayenda (22), wat van Malawi afkomstig is, en die plaasboer het na bewering al Vrydag ’n rusie gehad oor sy salaris wat glo nie betaal is nie.
Mayenda het Saterdag na die plaas teruggekeer waartydens hy glo met ‘n paal gedreig is. Nadat hy sy klere geneem en die plaas verlaat het, het die verdagte hom na bewering agtervolg en met sy voertuig omgery, volgens Timothy.
Mayenda is hospitaal toe geneem vir behandeling maar sterk tans tuis aan. Die verdagte is Maandag in hegtenis geneem en sal na verwagting Woensdag in die hof verskyn op ‘n aanklag van poging tot moord.
Hy word ook deur die polisie ondersoek vir ‘n voorval in 2020 toe ‘n plaaswerker, Izak Pienaar, van ‘n plaashuis se dak geval en dood is.
In dieselfde jaar het hy ook ontpop as ‘n deelnemer op die gewilde KykNet-program, Boer soek ‘n Vrou.
OFM-nuus/Isaac Cloete