On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Moe-zart help koeie meer melk gee

───   17:23 Fri, 17 Mar 2023

Moe-zart help koeie meer melk gee | News Article
Lize-Mari Erasmus op die melkplaas waar sy haar navorsing gedoen het. FOTO: Verskaf

’n Dierkundestudent van Hartbeespoort in Noordwes het met navorsing vir haar meestersgraadstudies getoon dat koeie wat deur klassieke musiek gesus word, meer melk produseer.

Lize-Mari Erasmus het haar navorsingsuitslae in die vakjoernaal, Domestic Animal Endocrinology, gepubliseer.

Nadat sy haar graad in musiek aan die Universiteit van Pretoria behaal het, het sy besluit om dierkunde te studeer en dis hier waar sy haar twee liefdes vir haar navorsing kon kombineer.

Haar studie is die eerste in sy soort in Suid-Afrika om die invloed van klassieke musiek op die stresvlakke en melkproduksie van koeie te ondersoek.

Volgens Erasmus bewys haar studie dat die speel van strelende klassieke musiek vir melkkoeie hul stresvlakke verlaag en hul melkproduksie verhoog.

“Die gesondheid en welsyn van melkkoeie gaan hand aan hand met doeltreffende en volhoubare suiwelproduksie,” sê sy oor die waarde daarvan om plaasdiere van ’n verrykende, stimulerende omgewing te voorsien.

Sy het vier maande by die Future Africa-instituut deurgebring waar ’n trop Holstein-koeie aangehou word.

Nege Holstein-koeie is in drie groepe van drie verdeel, en oor die verloop van vier maande is elke groep aan drie behandelings blootgestel. Een groep diere is elke dag vir 24 uur aan klassieke musiek blootgestel waar hulle ook al op die plaas was; ’n ander groep is glad nie aan enige musiek blootgestel nie; en in die derde groep het die koeie klassieke musiek net gehoor wanneer hulle gemelk is.

"Koeie wat deurlopend aan musiek blootgestel is, het die laagste stresverwante vlakke van glukokortikoïed in hul mis gehad," verduidelik sy. "Hulle was merkbaar rustiger toe hulle gemelk is, wat oor die algemeen ’n stresvolle tyd van die dag is weens al die aktiwiteite."

'Tot twee liter meer melk verkry'

Tot twee liter meer melk per melksessie is van die koeie verkry wanneer hulle voortdurend deur musiek omring was.

“Dit kan beteken dat melkprodusente dalk minder koeie kan aanhou, maar tog winsgewend sal wees. Ek glo verbruikers sal positief reageer as hulle weet die melk wat hulle gebruik kom van koeie wat op ’n plaas aangehou word waar die verryking van die diere se omgewing ’n prioriteit is.”

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.