On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse familie wil dagvaar nadat ambulans nie opdaag

───   16:48 Mon, 13 Mar 2023

Noord-Kaapse familie wil dagvaar nadat ambulans nie opdaag | News Article

Die familie van ’n bejaarde van Calvinia maak hulle gereed om die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid te dagvaar nadat sy oorlede is ná ure se gewag vir ’n ambulans om op te daag.

Rachel Cloete is oorlede op 2 Februarie 2023, kort ná haar aankoms by die Abraham Esau-hospitaal op die dorp, berig SABC News.

Haar familie sê hulle het drie uur lank tevergeefs gewag dat ’n ambulans opdaag en het eindelik ’n privaat voertuig bekom om haar hospitaal toe te neem. Sy is met haar aankoms by die hospitaal oorlede.

“Ek is nie gelukkig daaroor nie,” sê ’n familielid, Amanda Whites. “Ek dink hulle kyk nie na die ou mense hier op Calvinia nie. Elke keer wanneer ons die ambulans bel, kom die ambulans nie. Ek is baie teleurgesteld.”

’n Ander inwoner, Ivan Basson, sê hulle het al vyf uur lank gewag vir ’n ambulans om hulp te verleen met hul kind wat ’n breingewas het. “Ons is saam met die polisie hospitaal toe met ons kind.”

Dié Noord-Kaapse departement word in die gesig gestaar deur mediese regseise van meer as R320 miljoen.

Die departement sê hy ontvang tot 10 000 oproepe vir ambulanse per maand en bereik ongeveer 85% van behoeftiges.

Maruping Lekwene, Noord-Kaapse LUR vir Gesondheid, het sy meegevoel met Cloete se familie betuig. “Dit is jammer om ’n familielid te verloor wat op ’n ambulans wag. Ons hoop dat ons dit nie sal herhaal nie."

Lekwene sê van die 49 ambulanse wat tydens die premier, Zamani Saul, se provinsiale rede in Maart aangekondig is, is 19 al in gebruik geneem.

Die departement sê hy is besig om ambulansbestuurders en mediese noodtegnici te werf.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.