Central SA
Magdom vakante poste laat Mangaung se bouplanne ophoop – DA─── 10:06 Sun, 19 Feb 2023
![Magdom vakante poste laat Mangaung se bouplanne ophoop – DA Magdom vakante poste laat Mangaung se bouplanne ophoop – DA | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/c9b8a29d-680a-48b5-9b4e-571f7baa87de.jpg?crop=0,31,769,464)
Minder as ’n derde van die poste in Mangaung se beplanningsafdeling is gevul, wat dit onmoontlik maak om die agterstand in te haal in die goedkeuring van bouplanne en die verwerking van klagtes oor onwettige boubedrywighede.
Die DA in dié Vrystaatse metromunisipaliteit is bekommerd oor hoe lank dit duur om ’n groot aantal resolusies in werking te stel wat die metroraad reeds goedgekeur het. Die raad het onder meer in Augustus 2022 besluit om ’n munisipale beplanningstribunaal aan te stel om vakante poste te vul. Daarvan het tot dusver dadels gekom.
Aansoeke vir grondgebruik kan net doeltreffend afgehandel word as dié tribunaal behoorlik werk, sê die DA-raadslid Tjaart van der Walt. “Hoewel die waarnemende hoof van beplanning, Nkateko Mabunda, die raad verseker het dat die tribunaal behoorlik saamgestel is en gereeld vergader, is dit belangrik om die poste te vul met bekwame, onbesproke, professionele mense.”
Van der Walt sê Mangaung se burgemeester, Mxolisi Siyonzana, het weer eens nie ’n verslag ingedien nie oor die aansoeke vir grondgebruik wat die beplanninstribunaal asook die appèltribunaal tydens die eerste kwartaal van die 2022/23-boekjaar verwerk het. Dit is ’n wetlike vereiste kragtens Mangaung se Ordonnansie op Munisipale Grondgebruikbeplanning (2015).
‘Agterstand sal nog vir dekades ’n nadelige uitwerking op dienslewerin en strategiese beplanning hê’
“Dié mislukking beteken daar is geen deursigtigheid in Mangaung se besluite oor grondgebruik nie,” sê Van der Walt, “terwyl akademici wêreldwyd toenemend grondgebruikbesluite identifiseer as ’n winsgewende korrupsierisiko, wat nie die nodige aandag geniet nie.”
Hy sê volgens die jongste jaarverslag is meer as twee derdes van alle poste in die beplanningsafdeling vakant. Die afdeling vir bouplanne het ’n chroniese agterstand in die goedkeuring van planne en klagtes oor gevaarlike bousels. “Dié agterstand het gelei tot onwettige boubedrywighede wat nog vir dekades ’n nadelige uitwerking op munisipale dienslewering, finansies en strategiese beplanning sal hê,” sê Van der Walt.
Luidens onlangse mediaberigte word boubeerbeamptes geïntimideer en gedreig weens die agterstande. Dit beklemtoon dié afdeling se belangrike rol. “Daarom is dit selfs meer kommerwekkend dat die verkryging van ’n broodnodige digitale bouplanstelsel, waarvoor in 2002/23 R600 000 begroot is, uitgeskuif is tot ten minste Julie vanjaar,” sê Van der Walt.
“Hoewel die waarnemende afdelingshoof raadslede verseker het hulle het versoeke ingedien om die kritieke poste te vul, sal die geld wat begroot is vir poste wat steeds vakant is, nou in die aangepaste konsepbegroting toegewys word aan ander bedryfsbehoeftes tot Junie 2023.”
Van der Walt sê die DA sal die druk volhou dat Mangaung se beplanningsafdeling bemagtig word om sy veronderstelde deurslaggewende rol te speel om volhoubare ekonomiese groei in die metro, wat Bloemfontein, Thaba Nchu en Botshabelo insluit, moontlik te maak en aan te moedig.