Central SA
Drie vas naby Kimberley vir vermeende koperdiefstal─── MORNÉ VAN ROOYEN 07:52 Sat, 08 Feb 2025
![Drie vas naby Kimberley vir vermeende koperdiefstal Drie vas naby Kimberley vir vermeende koperdiefstal | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/738916f6-7104-4f72-9472-8b8ceaf210be.jpg?crop=0,0,800,450)
Drie verdagtes kom na verwagting Maandag (10/2) voor in die Kimberleyse landdroshof nadat hulle buite die stad met vermoedelik gesteelde koperkabels aangekeer is.
Beamptes van die plaaslike eenheid vir openbare orde was Vrydag omstreeks 01:30 besig met misdaadvoorkoming in die omgewing van Kimberley toe hulle ’n wenk kry oor ’n voertuig wat op pad uit Griekwastad se rigting was, sê sers. Dikeledi Gopane, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
Die beamptes se flinke optrede het tot die drie buitelandse verdagtes (26, 33 en 41) se inhegtenisneming gelei nadat hulle ’n voertuig, wat aan die beskrywing voldoen het, op die kruising van die Griekwastad- en Schmidtsdrift pad gewaar en voorgekeer het.
Kabels R100 000 werd
Toe hulle die blou Toyota Corolla met drie insittendes deursoek, het beamptes in die kattebak afgekom op ses rolle koperkabels ter waarde van R100 000, sê Gopane. “Beslag is op die motor gelê omdat dit vermoedelik gebruik is om ’n misdaad te pleeg.”
Die drie mans bly die naweek in polisieaanhouding tot hulle na verwagting Maandag hul eerste verskyning sal maak in die Kimberleyse landdroshof.
Die grootskaalse diefstal van koperkabels en ander metale uit openbare infrastruktuur ontwrig kragvoorsiening, bring treine tot stilstand en veroorsaak enorme skade aan openbare instelling landwyd, het GCIS, die regering se kommunikasiediens, in 2023 gesê.
Die ses koperkabels is in die kattebak van ’n blou Toyota Corolla gevind. Foto: SAPD
Die ekonomiese verlies weens koperdiefstal beloop na raming meer as R45 miljard per jaar, volgens navorsing wat die departement van handel, nywerheid en mededinging laat doen het. Eskom se koperdiefstal jaag die land jaarliks tussen R5 miljard en R7 miljard uit die sak, terwyl Transnet in 2023 berig het dat 1 121 km kabel gesteel is.
“Hierdie misdade verwoes openbare infrastruktuur en vererger ekonomiese probleme,” het Niko Allie, GCIS-woordvoerder, destyds gesê. “Diefstal van kragkabels, spoorlyne, verkeerstekens en mangate belemmer dienslewering en bedreig die vooruitgang wat met die jare gemaak is.”
Die owerheid werk aan oplossings deur regulasies en wetstoepassing, maar dis vergeefs as die gemeenskap nie saamwerk nie. “Koper- en metaaldiefstal is ’n aanval op ons demokrasie en lewenswyse. Meld enige verdagte optrede by jou naaste polisiekantoor aan sodat ons almal saam kan help om ons infrastruktuur te beskerm,” het Allie gevra.
LEES OOK: Bejaarde met koperkabels betrap op plaas by Odendaalsrus
Met dié dat wêreldwye koperpryse styg, kan misdaadsindikate hul diefstal uitbrei, wat verdere ekonomiese verliese tot gevolg kan hê, het BusinessTech in Junie berig. Koperpryse het in die voorafgaande maand nuwe hoogtepunte bereik weens verhoogde aanvraag en ’n verwagte tekort.
Koper is onmisbaar in nywerhede soos telekommunikasie, kragopwekking en konstruksie. Dit word gebruik in breëbandnetwerke, transformators en kragopwekkers. Hernubare energie verhoog ook die aanvraag, want volgens die Internasionale Energieagentskap (IEA) verg elke MW wind- en sonkrag tussen 3 en 5 t koper.
Kopertekort verwag
Elektriese voertuie dryf verdere vraag aan en gebruik sowat 83 kg koper per voertuig, vergeleke met 23 kg in tradisionele motors. Hoewel herwinning in 35% van die koperbehoefte voorsien, bly dit onvoldoende.
Die IEA waarsku teen 2030 sal in slegs 80% van die koperbehoefte voorsien kan word, wat pryse verder kan opstoot terwyl nywerhede uitbrei en volhoubare energieoplossings bevorder.