Central SA
'Jy is verantwoordelik vir my kind se dood' - Alice Wallace─── BAMBATHA GIKO 15:03 Tue, 24 Jan 2023
!['Jy is verantwoordelik vir my kind se dood' - Alice Wallace 'Jy is verantwoordelik vir my kind se dood' - Alice Wallace | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/a5666b0c-5ae0-4de0-9b4c-fe16ab29d281.jpg?crop=0,1,598,337)
'n 56-jarige Vrystaatse ma betreur wat sy beskryf as die vermybare verdrinking van haar seun, Erik Rautenbach.
Dié broer van twee, pa van 'n sesjarige dogtertjie Zonike, en lewensmaat van Luzinda Harmse (29) het Sondag 22 Januarie 2023 sy lewe verloor toe hy deur 'n waterpomp by die Aldam-vakansieoord naby Ventersburg in die Vrystaat, vasgesuig is en verdrink het.
LEES OOK – Breaking News: Free State man drowned in resort's pool
“Meneer of Mevrou wat in beheer van daardie oord is, ek neem jou kwalik. Jy het 'n verantwoordelikheid teenoor die publiek. Jy het 'n verantwoordelikheid teenoor my kind gehad en my kind is dood. Mag jy in jou lewe nooit jou mens gaan optel, waar hy daar lê nie. Hy was 'n uitstekende swemmer,” het Wallace gesê. "Hy was nie 'n onverantwoordelike mens wat by die vlak kant van 'n swembad ingeduik het nie. Jy is verantwoordelik vir my kind se dood.”
Wallace verduidelik: Die gesinnetjie het op 'n uitstappie na die oord gegaan as 'n verrassing vir hulle dogtertjie. Hulle het 'n swembad by die huis maar was van plan om met die Super Tube af te gly. Hulle is egter deur 'n lid van die publiek in kennis gestel dat die Super Tube om 15:00 af sou wees weens beurtkrag.
Luzinda en Zonike wou vir oulaas met die glybaan afgaan voor beurtkrag. Hulle het dit egter sukkel-sukkel gedoen aangesien daar min water in die Super Tube afgeloop het. Daarna het hulle na Erik gesoek, wat vir hulle aan die onderpunt van die Super Tube sou wag. Zonika het toe aan haar ma gesê haar pa word onder die water vasgekeer.
Wallace verduidelik verder aan OFM-nuus dat haar kleinkind haar pa by die pomp gesien het toe sy in die swembad geland het.
Sy vertel verder hoe haar sesjarige kleinkind daarna probeer het om haar pa uit te trek, maar sy kon nie. Sy het histeries om hulp geroep en mense probeer oortuig van wat aan die gebeur is.
“Sy het hom aan sy hare probeer los trek, sy het hom aan sy arm probeer los trek. Maar die pomp het hom vasgesuig. Dit is hoekom daar nie water by die Super Tube afgeloop het nie, want my kind se lyf het die water gekeer.”
Die sesjarige dogtertjie het die voorval met ontstellende besonderhede aan OFM-nuus beskryf en verduidelik hoe sy gesukkel het om haar pa te red en dat hy te laat uit die water gehaal is.
Zonike is deur haar ouers geleer hoe om haarself of iemand anders van verdrinking te red, verduidelik haar ouma.
Volgens Wallace was daar geen lewensredders of noodpersoneel om haar seun te red nie. ’n Vriend wat saam met hulle daar was, het by die pomphuis ingebreek om die pompe af te skakel. Teen die tyd dat hulle Erik probeer red het, was dit reeds te laat en het hy verdrink.
Sy voeg by dat lede van die publiek die familie moes help om haar seun uit die pyp te kry maar hulle kon nie haar seun red nie, aangesien nie een van hulle kardiopulmonêre resussitasie (KPR of beter bekend as CPR) kon doen nie.
Wallace bevraagteken verder hoe die oord geen noodpersoneel of -maatreëls in plek gehad het vir sulke noodgevalle nie. Sy is ook teleurgesteld in die feit dat daar geen hulp, medelye of kommunikasie van die oord se bestuur was nie.
Die polisie-ondersoek duur intussen voort.