Central SA
Vyfjarige Le-Verno van Upington steeds vermis─── 08:21 Thu, 15 Dec 2022
Daar is nog steeds geen vordering in die saak van die vermiste 5-jarige seuntjie, Le-Virno van Wyk van Louisvale naby Upington, wat op 31 Mei vanjaar spoorloos verdwyn het nie.
Die polisie in die Noord-Kaap bied 'n kontantbeloning aan vir enige persoon met inligting oor die saak.
Le-Virno het saam met maatjies naby 'n treinspoor in die Skierlik-informele nedersetting gespeel toe hy verdwyn het. ‘n Soektog is van stapel gestuur, maar sonder enige sukses.
Polisiewoordvoerder Ompile Masegela sê die polisie ondersoek wel 'n aantal leidrade, maar het die publiek se hulp dringend nodig.
Enigiemand met inligting kan kapt. Koos van den Heever by 082-302-0442 kontak of die ondersoekbeampte, sers. Lebogang Mokwene by 082-330-4478. Wenke kan ook ingedien word deur Crime Stop te skakel by 08600-10111.
Masegela sê mense moet veral nou, tydens die feesgety, hulle kinders se veiligheid eerste stel en verseker dat hulle te alle tye bewus is van waar hulle kinders is.
OFM-nuus/Roderick Titus