Central SA
Beskerm jou diere teen dié geraas─── HEIDRÈ MALGAS 05:00 Thu, 03 Nov 2022

Met Guy Fawkes-vieringe en die feesseisoen om die draai, raak baie mense opgewonde oor die naderende nuwe jaar. Ongelukkig koop sommiges onwettige klappers en vuurwerke om dit te vier.
Diere is baie kwesbaar hierdie seisoen en kan negatief geraak word deur die skiet van klappers of vuurwerke wat permanente skade kan aanrig.
Reinette Meyer van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) vertel hoe belangrik dit is om jou diere veilig te hou.
Sy sê dat diere se gehoor baie sensitief is - nie net honde en katte nie, maar ook plaasdiere en wilde diere. Hulle hoor baie hoër frekwensies, hoor klank baie verder en harder, en reageer dan op dié klanke. Dit klink vir hulle soos bomme wat afgaan.
“Hulle raak dan baie verskrik. Honde kan selfs hul eienaars aanval. Hulle probeer deur of oor drade en palisadeheinings spring en verdrink selfs in swembaddens. Honde kan hulle eie dood veroorsaak wanneer klappers geskiet word,” sê Meyer.
Sy sê dat mense hulle diere binne die huis moet hou, musiek moet speel of die televisie aan moet los om hul diere se aandag van die klappergeluide af te trek.
“Daar is baie gevalle waar die diere by ons beland. As hulle nie naamplaatjies of mikroskyfies het nie, maak dit vir ons moeilik om hul eienaars in die hande te kry,” vertel Meyer.
Verder sê sy om jou diere veilig te hou teen klappergeluide, hou die diere in die huis en speel met hulle want dit sal hul aandag aflei van die harde geluide buite.
Eienaars kan ook 'n kalmeermiddel by die naaste DBV aanskaf wat hulle diere rustig sal maak.