Central SA
Ramaphosa by Noord-Kaapse sonkragsentrale verwag─── 11:34 Thu, 20 Oct 2022
President Cyril Ramaphosa sal na verwagting Donderdag die ACWA Red Stone-kragsentrale in die Noord-Kaap besoek as deel van 'n Presidensiële Imbizo en om glo 'n dooiepunt tussen die kragsentrale se bestuur en werkers te besleg.
Ramaphosa, vergesel deur senior amptenare, sowel as die Noord-Kaapse Premier Zamani Saul en Lede van sy Uitvoerende Raad (LURe), sal na verwagting die gekonsentreerde sonkrag- termiese kragsentrale wat tans in aanbou is buite Postmasburg besoek, as deel van die regering se planne om die nasionale energiekrisis aan te spreek.
Werkers het Maandag by dié kragsentrale begin staak. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se hulp is ingeroep om die dooiepunt tussen die werkers en die bestuur te besleg.
Die Noord-Kaapse woordvoerder, Monwabisi Nkompela, sê die president sal met werkers én die bestuur konsulteer rakende die huidige werksomstandighede by die kragsentrale.
'n Termiese kragstasie is 'n tipe kragstasie waarin hitte-energie na elektriese energie omgeskakel word. In 'n stoomgenererende siklus word hitte gebruik om water in 'n groot drukvat te kook om hoëdrukstoom te produseer, wat 'n stoomturbine aandryf wat aan 'n elektriese kragopwekker gekoppel is.