Central SA
Vandag in die Nuus: 8 Oktober 2022─── 13:55 Sat, 08 Oct 2022
Hierdie is van jou hoofstories vandag, 8 Oktober 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.
Die Vrystaatse Departement van Polisie, Paaie en Vervoer gaan R13 miljoen van sy eie geld gebruik om slaggate te vul.
Dit, in 'n poging om die toestand van paaie in die provinsie te verbeter.
OFM-nuus se Heidré Malgas berig die LUR vir die departement, William Bulwane, het tydens die provinsiale bekendstelling van die Oktober Vervoermaand-veldtog gesê die veldtog poog om bewustheid van die belangrike rol van vervoer in die ekonomie te verhoog.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik vir uiters gevaarlike weerstoestande waaronder veldbrande maklik kan ontstaan en versprei.
Dié waarskuwing is vandag vir dele van die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes uitgereik.
Die weerdiens waarsku dat die brandgevaar-indeks bo 75 is en maan inwoners om nie aan aktiwiteite deel te neem wat kan lei tot die verspreiding van veldbrande nie.
Dit sluit in om nié brandbane te maak nie.
Infrastruktuur en weiding is gedurende ‘n veldbrand tussen Daniëlskuil en Kuruman in die Noord-Kaap verwoes.
Volgens Jan Joubert, voorsitter van Agri Kuruman, toon berigte dat weerlig Donderdag in die vroeë oggendure die veld aan die brand geslaan het en dat brandbestrydingspanne nog gister hard besig was om die brand te blus.
Johan van den Berg, ‘n onafhanklike landbouweerkundige, het voorheen aan OFM-nuus gesê weerlig is nou een van die groot gevare, soos somerreën in dele van die land sal begin val.
Transnet se aansoek om ‘n staking van lede van die vakbond Untu onbeskermd te verklaar, het in die hof misluk.
Die staatsonderneming het die hof vir ‘n dringende hofbevel genader, in ‘n poging om die staking te beëindig.
Die SAUK berig Transnet bied ‘n verhoging van tussen drie en vier persent aan, terwyl vakbonde 13-komma-vyf persent eis.
Transnet het vroeër ‘n force majeure by sy hawens verklaar.
‘n Force majeure word verklaar wanneer ‘n party weens onvoorsiene omstandighede nie sy kontraktuele verpligtinge kan nakom nie.
LUISTER: