Central SA
Munisipaliteit sê AfriForum se watertoets is 'ongeloofwaardig'─── 06:03 Tue, 20 Sep 2022
Die Dawid Kruiper-munisipaliteit bevraagteken die uitslag van toetse wat AfriForum op drinkwater in Upington laat doen het en het dit as “ongeloofwaardig” afgemaak.
Die munisipaliteit se direkteur vir siviele dienste, Padwald Jonker, sê “bewerings deur AfriForum, dat water wat die munisipaliteit aan sy inwoners bied nie vir menslike gebruik geskik is nie, is ongegrond”.
Jonker sê hy bevraagteken AfriForum se proses in die neem van die watermonsters omdat die resultate “ongeloofwaardig” is.
“Jy kan verwag dat rou water daardie vlakke van e.coli bevat, maar beslis nie water wat deur ’n proses (van suiwering) kom nie. As daardie water ingeneem word, is dit ’n saak van lewe en dood. Daardie standaarde is ’n beskrywing van rou water wat nie deur ’n proses van suiwering gegaan het nie.”
LEES OOK: Inwoners vir weke sonder water met NK-waterprobleme wat voortduur
Hy sê die munisipaliteit is nog nie deur die Departement van Gesondheid genader oor mense wat gehospitaliseer is omdat hulle water van swak gehalte ingeneem het nie.
“Ek wil dit beklemtoon dat die gemeenskap met gemak die water kan inneem.”
Dit volg nadat AfriForum in ’n plasing op sy webtuiste inwoners van Upington gewaarsku het om nie “besmette water” te drink nie. Die organisasie het op 15 September watermonsters by drie waterpunte in die Upington-omgewing geneem nadat inwoners oor die water se “onnatuurlike kleur en reuk” gekla het.
AfriForum sê die water is by ’n geakkrediteerde laboratorium getoets.