On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

DBV red diere uit modder - FOTO'S

───   HEIDRÈ MALGAS 14:11 Tue, 13 Sep 2022

DBV red diere uit modder - FOTO'S | News Article
FOTO's verskaf

'n Totaal van 568 diere is gered nadat die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ingegryp het en diere gehelp het wat deur die Jagersfontein-ramp geraak is.

Die Bloemfontein-, Virginia- en Kimberley-takke van die DBV het almal ingespring om die diere uit die modder te help red.

Hoofinspekteur vir die DBV in Bloemfontein, Reinette Meyer, sê hulle is nege werkers van die Bloemfontein DBV, twee van Virginia en drie van Kimberley, wat beteken hulle is 'n span wat help om die diere te red.

“Die modderwater het deur mense se huise gespoel. In die nedersettings is diere gewoonlik aan kettings vasgemaak en dis ‘n plaasgemeenskap, so hulle het baie hoenders ook. Die hoenders was in hokkies by hulle huise,” vertel Meyer.

Die diere sit basies in die modder vas. Wat die DBV doen, is om die diere uit die modder te haal sonder om hulle seer te maak.

“Ons stap in deur die nedersetting, in die modder in, en red hulle uit die modder uit. Ons vat hulle dan na ons DBV in Bloemfontein. Al die diere is tans by ons DBV. Ons was hulle en maak hulle skoon,” het sy bygevoeg.

Sy sê wanneer die mense weer op die been is, sal hulle die diere aan hulle terugbesorg. “Ons glo die mense is lief vir hulle diere en hierdie is ‘n absolute ramptoestand. Ons weet dat hulle graag hulle diere sal wil terughê,” het sy gesê.

Sy voeg by dat ‘n plaaslike veearts, dr. Colleen Gilfillan, van die Fichardtpark-dierekliniek na die diere omsien. Sy kyk na elke dier en evalueer hulle.

Ongelukkig het baie van die hoenders modderige slyk ingekry en baie het dit ongelukkig nie gemaak nie.


‘n Totaal van 568 diere is gered. Hoenders was die meeste hiervan, met 303 hoenders wat gered is.

Sy vertel dat dit moeilik is om te sê hoe lank die diere by die Bloemfontein DBV gaan wees. Die regering is besig om 'n plan te maak om die mense so gou as moontlik te help, maar daar is nood en hulle gaan die diere vir eers hou.

Die DBV se behoeftes is kos vir die diere, en ook sjampoe-donasies om die diere skoon te kry. Sy het ook gevra dat mense asseblief hulle plaaslike DBV sal ondersteun.

Verder het die Nasionale DBV se Openbare Betrekkinge-beampte, Keshvi Nair, in 'n verklaring gesê dikwels, wanneer rampe toeslaan, is eienaars so oorweldig en getraumatiseer dat dit vir hulle moeilik word om in die behoeftes van hulle diere te voorsien. Nair sê toe die ramp aanvanklik aangemeld is, het die DBV vinnig ingegryp om diere in nood by te staan. Die DBV se inspekteurs het deur die modderige slyk van die oorstromings gewerk en diere letterlik daaruit getrek.

Inspekteurs werk ook aktief in die omliggende gemeenskappe om inwoners te bereik wat hulp nodig het met hulle diere. Tot dusver het die DBV 'n aantal huisdiere, plaasdiere en selfs wilde diere gered.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.