Central SA
Brand-gesin se moordverdagtes terug in hof─── HEIDRÈ MALGAS 11:08 Sat, 03 Sep 2022

Die bejaarde egpaar, Danie en Breggie Brand, en hul dogter, Elzabie, wat in 2020 op 'n kleinhoewe in die Magogong-omgewing naby Hartswater in die Noord-Kaap vermoor is, se beweerde moordenaars sal Maandag in die hooggeregshof in Kimberley verskyn.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se streekswoordvoerder, Mojalefa Senokoatsane, staan die beskuldigdes - vier mans en 'n vrou - tereg op verskeie ernstige aanklagte, wat drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede asook ontvoering insluit.
LEES OOK: Hartswater murders: Five arrested, three bodies recovered
OFM-nuus het vroeër berig dat die verdagtes op 28 Julie 2020 in hegtenis geneem is nadat hulle na bewering die Brand-gesin op Sondag 26 Julie 2020 by hul huis op hul kleinhoewe aangeval het.
Die nasionale polisiewoordvoerder, Vish Naidoo, het gesê die voorval is aangemeld nadat familielede in Johannesburg vermoed het dat iets fout was toe hulle nie met hul ouers en suster in kontak kon kom nie.
LEES OOK: Hartswater murder suspects expected in court
Senokoatsane voeg by dat die verdagtes daarvan aangekla word dat hulle Danie (83), sy vrou (73) asook hul 54-jarige dogter Elzabie, ontvoer en vermoor het.
Die Brand-gesin se liggame is dae later in Taung in Noordwes gevind.
LEES OOK: Hartswater murder accused denied bail a second time
Senokoatsane het bygevoeg dat beskuldigde nommer vier, Kgomotso Mpumlwane (45), tydens hul talle hofverskynings om borgtog in die Hartswater-distrikshof aansoek gedoen het, wat suksesvol teengestaan is.
Die ander vier beskuldigdes het hul borgtogaansoeke laat vaar.
Die ander beskuldigdes in dié saak is Donald Seolesang (22), Tshepo Visagie (38), Realeboga Manyedi (21), asook Tshepaone Malato (21).
Die vyf beskuldigdes bly in aanhouding in die Kimberley-gevangenis tot hul volgende verskyning in die hooggeregshof, op 5 September 2022.