On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Central SA

Tiener verloor amper voet weens beweerde swak diens, stukkende hysbak

───   HEIDRÈ MALGAS 16:15 Wed, 03 Aug 2022

Tiener verloor amper voet weens beweerde swak diens, stukkende hysbak | News Article

‘n Tienerseun het ná ‘n fietsongeluk amper sy voet verloor weens die beweerde swak diens van personeel en hysbakke wat buite werking was by ‘n staatshospitaal in Bloemfontein.

Pieter Jacobs is ná sy ongeluk, waarin die bene in sy voet glo vergruis is, deur ‘n ambulans na die Pelonomi-hospitaal geneem. Sy ma sê hy het daar vier ure lank in noodgevalle gelê en bloei. Hy is toe na ‘n kliniek verwys en is aangesê om twee weke te wag voordat hy ‘n dokter kon sien. Sy voet het ontsteek en daar is in 'n stadium gewaarsku dat 'n amputasie later oorweeg sal moet word.

Pieter se ma, Hester Jacobs, het 'n klag teen die hospitaal ingedien. "Hy is vir 'n week in die hospitaal opgeneem. Die swelling het erg geword. Daar was blase op die vel en hy het 'n infeksie opgedoen," het sy gesê.

Jacobs het bygevoeg dat een van die redes waarom hy nie in die Pelonomi-hospitaal geopereer kon word nie, is omdat operasies met 'n week uitgestel is weens die hospitaal se hysbakke wat buite werking was.

Sy het probeer om hom na 'n private hospitaal te neem, maar omdat hulle nie ‘n mediese fonds het nie, sou die operasie meer as R120 000 gekos het. Die dokters by die private hospitaal het hulle aangeraai om so gou moontlik hulp te kry omdat die voet in gevaar is en dit kan beteken dat dit later geamputeer sal moet word.

Jacobs het bygevoeg dat hulle na Emoya Med verwys is vir die geriewe. ‘n Dokter in die private sektor het aangebied om haar seun daar te opereer. Hy het hulle pro bono gehelp. Sy sê hulle het ook besef indien hy later sou gaan, hulle nie sy voet sou kon red nie.

Jacobs het 'n klag by die Vrystaatse Departement van Gesondheid ingedien, want sy sê as hulle hom vroeër gehelp het, sou haar seun nie skade gely het nie.

“Ons as ouers het nog steeds ‘n bedrag wat ons afbetaal. Die voet genees wonderlik tot dusver en hy is ook uit die hospitaal ontslaan,” het sy gesê en haar dankbaarheid wéér uitgespreek teenoor Emoya Med en die dokters wat hulle gehelp het.

OFM-nuus het navraag by die Vrystaatse Departement van Gesondheid gedoen en wag nog op kommentaar.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.