Central SA
Nuwe substasie ná ontploffing geïnstalleer; elektrisiën kritiek beseer─── HEIDRÈ MALGAS 15:44 Wed, 29 Jun 2022

'n Nuwe mini-substasie word geïnstalleer nadat 'n substasie vanoggend in Kimberley ontplof het en drie elektrisiëns beseer het.
Volgens die woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, Thoko Riet, is een van die elektrisiëns kritiek beseer en na 'n hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas. "Een van die vakleerlinge het ook seergekry, maar dit blyk hy is in 'n stabiele toestand, en die derde een is vir skok opgeneem," het sy gesê.
LEES OOK: Drie elektrisiëns beseer toe Noord-Kaapse substasie ontplof
"Die installering van die nuwe mini-substasie sal gedoen word en die elektrisiëns sal die kabels lê, wat 'n rukkie kan neem om te voltooi," het Riet bygevoeg.
Sy het gevra dat die gemeenskapslede geduldig sal wees terwyl die elektrisiëns voortgaan met herstelwerk. "Die geaffekteerde buurte is Hillcrest en omliggende gebiede," het sy gesê.
Riet het hulle kollegas ‘n spoedige herstel toegewens ná dié ongelukkige voorval.