Central SA
Drie elektrisiëns beseer toe Noord-Kaapse substasie ontplof─── HEIDRÈ MALGAS 10:42 Wed, 29 Jun 2022

Drie elektrisiëns is Woensdagoggend na die hospitaal gehaas weens 'n ontploffing by 'n substasie in Kimberley in die Noord-Kaap.
Volgens Thoko Riet, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, het die Aviva-substasie in Hillcrest ontplof terwyl die elektrisiëns besig was om 'n breker te vervang. “Drie van die elektrisiëns het beserings opgedoen en is na hospitaal gehaas,” het Riet gesê.
Sy het bygevoeg dat daar tans geen krag in die area is nie, maar dat die brand en ontploffing geblus is en elektrisiëns aandag aan die probleem gee. Thoko het bygevoeg dat beurtkrag dalk 'n bydraende faktor kan wees.
Sy het gesê dat meer nuus oor die toestand van die elektrisiëns sal volg, asook wanneer die elektrisiteitstoevoer na verwagting herstel sal wees.
Die substasie het baie lank gebrand weens 'n moontlike olie-lekkasie. Die straat is intussen gesluit.