On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Business

Begroting 2025: Suid-Afrika op onbekende terrein

───   07:00 Wed, 19 Mar 2025

Begroting 2025: Suid-Afrika op onbekende terrein | News Article
Mense betoog teen begrotingsbesnoeiings voor Suid-Afrika se 2025-begrotingsrede. Foto: X/Equal Education Law Centre

Suid-Afrika is op onbekende terrein ná onenigheid oor die voorgestelde begroting.

Die regering van nasionale eenheid is steeds erg verdeeld oor die begroting, wat uiteindelik ná ’n maand opnuut voorgelê is weens sterk teenkanting teen die voorgestelde BTW-verhoging. Talle meen Suid-Afrika se begroting sal nié deur die parlement aanvaar word nie.

Ontleders sê die situasie is ongekend, aangesien Enoch Godongwana, minister van finansies, se voorstelle kritiek ontlok het asook verwerping deur die vernaamste koalisievennote.

Die ANC het saam met nege ander partye ’n regering van nasionale eenheid gevorm nadat hy sy parlementêre meerderheid in verlede jaar se verkiesing verloor het. Sonder steun van sy grootste koalisievennoot, die DA, sal die begroting waarskynlik nié slaag nie tensy die regering sy beleid hersien of steun van opposisiepartye kry.

Godongwana moes verlede maand sy begrotingsrede uitstel weens die sterk teenkanting, die eerste keer sedert 1994 dat ’n begrotingsrede uitgestel is. Ná onderhandelinge het Godongwana Woensdag (12/3) ’n hersiene begroting voorgelê wat hy as “gewaagd en pragmaties” beskryf het.

In reaksie op die aanvanklike teenkanting het hy ’n verlaagde BTW-verhoging voorgestel, wat dit oor twee jaar van 15% tot 16% sal verhoog, in plaas van die beplande 17%.

Die Nasionale Tesourie se fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle is nou in die hande van die parlement, wat die begroting binne vier maande moet afhandel. Dit skep ’n praktiese probleem vir belastingbetalers en skep onsekerheid oor die toepassing van persoonlikebelastingkoerse sowel as BTW.

Die dringendste vraag is oor die belasting van vergoeding in Maart. Daar is geen belastingaanpassings in die huidige voorstel nie. Die konserwatiewer en aanbevole benadering sal wees dat werkgewers steeds die bestaande belastingkoerse en -kerwe toepas.

Die BTW-verhoging met ingang 1 Mei is egter ’n aansienlik groter kopseer. As die minister ’n gewysigde BTW-koers aankondig, sal daardie wysiging van krag wees vanaf die datum wat die minister in sy aankondiging bepaal.

Dit sou gehelp het as die parlement voor 1 Mei oor die begroting gestem het, maar die stemming gaan eers in die loop van daardie maand gehou word.

Om die begroting deur te voer, moet die fiskale raamwerk, die Wetsontwerpe op Verdeling van Inkomste, op Bewilliging en op Tariewe en Monetêre Bedrae en die BTW-wysigingswet deur komitees oorweeg word en dan deur die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur word.

Die fiskale raamwerk, wat ’n oorsig is van die regering se besteding- en inkomste-insamelingsplanne, moet eers deurgevoer word voordat enige van die ander wetsontwerpe oorweeg word.

Fiskale raamwerk moet albei huise van parlement gaan

Die eerste stap is dat die finansiële komitees van albei huise van die parlement die fiskale raamwerk “binne 16 dae of so gou redelikerwys moontlik” moet goedkeur of wysig en hul verslag na die onderskeie huise moet verwys.

Dit is noodsaaklik om eers die fiskale of begrotingsraamwerk deur te voer voordat die begrotingswetsontwerpe oorweeg kan word. As ’n wysiging aan die raamwerk aangebring word, moet die komitees dit motiveer, met inagneming van faktore soos die staat se fiskale posisie, en sy inkomste- en leningsvereistes. Die fiskale raamwerk moet deur beide huise van die parlement gaan.

Die proses in die Nasionale Vergadering is as volg:

Die elf lede van die staande komitee oor finansies moet beraadslaag of die begrotingsraamwerk aanvaar of gewysig moet word. Die komitee bestaan uit vier ANC-LP’s en een IVP-LP aan die een kant; dus vyf wat gesê het hulle ondersteun die begroting.

Andersyds het die twee DA-LP’s, twee van die MK-party, een van die EFF en een ActionSA-LP se party gesê hulle is teen die begroting gekant, veral weens die BTW-verhoging. Hulle beklemtoon die behoefte aan beter bestedingsdoeltreffendheid en strenger maatreëls om verkwisting hok te slaan.

ActionSA, met 1,2% van die stemme en ses setels in die parlement, kan dus ’n sleutelrol speel om die lot van Suid-Afrika se begroting in dié staande komitee te bepaal. Sy LP Alan Beesley het die beslissende stem in die komitee.

Die ANC en sy bondgenote ondersteun die begroting, maar Beesley is gekant daarteen weens kommer oor korrupsie en vermorsing. As ActionSA sy standpunt verander, kan die begroting sonder wysigings deurgevoer word. So nie sal die Nasionale Vergadering ’n meerderheid nodig hê om dit goed te keur. Die partye en die tesourie sal na verwagting aanhou onderhandel.

Indien die komitee wel wysigings aan die raamwerk maak, sal Godongwana twee dae hê om op die verslag te reageer en met die komitee te kommunikeer voordat dit aan die Nasionale Vergadering voorgelê word om aanvaar te word.

Die tesourie en die komitee kan moontlik deur hierdie proses van betrokkenheid by die staande komitee oor finansies ’n kompromie bereik. ’n Politieke ooreenkoms kan ook buite die komitee tussen die ANC en DA getref word. Dit is die waarskynlikste scenario.

Enige van hierdie opsies sal die dooiepunt oplos, en die verslag oor die fiskale raamwerk sal na die Nasionale Vergadering gaan om aanvaar te word.

As die dooiepunt egter nié in die komitee opgelos word nie, sal wie ook al die meerderheid het, die verslag aan die Nasionale Vergadering skryf.

Die ANC het 159 uit die 400 setels in die Nasionale Vergadering, die DA 87, die MK-party 58 en die EFF 39. Kleiner partye, insluitend die IVP het 17 setels, terwyl die Patriotiese Alliansie nege het, en die VF Plus en ActionSA het elk ses setels.

Die stemming is volgens ’n gewone meerderheid. Die ANC het die hulp van die DA, MK-party of EFF en nog ander nodig. Vir die DA om sy weergawe van die verslag deur te voer, sal hy die ondersteuning van die MK-party en/of die EFF nodig hê. Selfs al kan die ANC die steun in die staande komitee werf deur ActionSA se enkele komiteestem te kry, sal die stemmery in die Nasionale Vergadering misluk.

 ’n Soortgelyke proses word in die Raad van Provinsies gevolg.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.