On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Business

Begroting 2025: ‘Staat se geraamte’ ter tafel gelê

───   06:00 Wed, 19 Feb 2025

Begroting 2025: ‘Staat se geraamte’ ter tafel gelê | News Article

“Die begroting is die geraamte van die staat wat van alle misleidende ideologieë gestroop is,” was die woorde van die sosioloog Rudolf Goldscheid.

Suid-Afrika se begrotingsrede Woensdag (19/2) is die ware toets van die verbintenis wat die regering van nasionale eenheid het tot nasiebou en die verwesenliking van menseregte. 

Dit sal wys of sy beloftes deur werklike belegging gesteun sal word, óf leë retoriek sal bly. 

Die staatsrede het gepoog om ’n hoopvolle visie vir Suid-Afrika te skets, maar beloftes alleen sal nie ons nasie bou nie, volgens die burgerregteorganisasie Section27. 

Enoch Godongwana, minister van finansies, sal die 2025-begrotingstoespraak Woensdag aan die Nasionale Vergadering in die koepeltent op die Nieuwmeester-parkering lewer en die 2025-begrotingsoorsig aan die parlement voorlê.

Godongwana sal ook die Begrotingswetsontwerp instel en die 2025-wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste ter tafel lê, wat die Parlement in die volgende maande sal verwerk. 

Tydens die begrotingsrede dui die minister van finansies die toewysing van finansiële hulpbronne aan die nasionale regering se prioriteite aan wat deur pres. Cyril Ramaphosa in die staatsrede uiteengesit is.

Gedetailleerde plan

Die Begrotingsrede het onder meer ten doel om ekonomiese groei en ondersteuning vir die kwesbares in ons samelewing te balanseer ondanks beperkte hulpbronne. Godongwana sal al die finansiële, ekonomiese en maatskaplike verpligtinge uiteensit wat die regering sal prioritiseer in sy beplande uitgawes. 

Hy sal ’n gedetailleerde plan vir 2025 se besteding verskaf, insluitend voorstelle vir inkomste-invordering om die regering se beplande ingrypings en verpligtinge te help finansier.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) stel voor dat Suid-Afrika dapper moet wees en verminder sy groeiende skuld om ekonomiese groei ’n hupstoot te gee.

“Wat ons aanbeveel, is ’n fiskale aanpassing van 1% van die bruto binnelandse produk per jaar vir drie jaar,” sê Tidiane Kinda, die IMF se inwonende verteenwoordiger in Suid-Afrika, in ’n onderhoud in Bloomberg se Johannesburgse kantoor. 

“Dus, 3% van die BBP oor drie jaar sal openbare skuld op ’n afwaartse trajek plaas en staatskuld verlaag tot meer omsigtige vlakke van 60% tot 70% van die BBP in die volgende vyf tot tien jaar.”

Hoë skulddienskoste

Sleutelstappe sluit in loondissipline, die hervorming van sukkelende ondernemings in staatsbesit en die beheer van staatsverkryging. Suid-Afrika se skuld-tot-BBP-verhouding het in 2025 tot 74,7% gestyg, teenoor 23,6% 16 jaar gelede. 

Godongwana sal ’n begroting probeer voorlê wat daarop gemik is om beleggers van fiskale dissipline te verseker ondanks interne druk vir verhoogde besteding. 

Die land se hoë skulddienskoste het noodsaaklike besteding aan gesondheidsorg, onderwys en polisiëring beperk, terwyl dit ook groei beperk, wat die afgelope dekade gemiddeld onder 1% jaarliks was.

Begrotingsvoorstelle

  • Verminder ouderdom om vir toelaes te kwalifiseer tot 50 jaar.
  • Stel belonings in om misdaad aan te meld.
  • Verhoog die Gesondheidsbevorderingsheffing om lewens te red en diabetes te help voorkom.
  • ANC moenie die handel van R36 miljard met die VSA verloor nie.
  • Skrap R350-toelaes, skep eerder werk.
  • Verhoog die begroting vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.
  • Verminder belasting om die ekonomie te stimuleer.
  • Begroot om vir kleinskaalse vervaardiging te beywer.
  • Lenings, nie toelaes nie.
  • Moenie huise bou nie, gee aan mense staanplekke.
  • Minister moet ’n plan voorlê om hoë voedselpryse aan te spreek.
  • Help KMMO’s om befondsing te kry.
  • Alle LP’s moet hul eie huise en motors met hul eie salarisse koop en nie met die staat se geld nie.
  • Verhoog ouderdoms- en ongeskiktheidstoelaes met R500.

Fatima Khan was meer uitgesproke: “Verhoog die maatskaplike toelae vir bejaardes tot R2 500, en verminder die kinderondersteuningstoelae sodat tieners kan ophou om kinders te hê, want daar is meer kinders as volwassenes in hierdie land …

“Hulle moet gaan werk soek om hul kinders ’n beter opvoeding te gee in plaas daarvan om op hul boude te sit en elke maand te wag vir die belastingbetaler se swaarverdiende kontant om hul kinders groot te maak. Maak dus gesinsbeplanning gratis.”

Koste van dienste

Vir diegene (sonder beleggings) wat verkies om die bierglas halfvol te hou, is daar die troos dat dit baie goedkoper is om in Suid-Afrika te woon in vergelyking met Brittanje en ander ontwikkelde lande. Met die rand op sowat R18,50 teenoor die dollar, R19 teenoor die euro, en R23 teenoor die pond, is uitgawes in Suid-Afrika aansienlik laer. 

Byvoorbeeld, ’n 250 ml-blik Red Bull kos £1,75 (R40) in die VK, terwyl dit in Suid-Afrika R18,99 kos – byna die helfte van die prys. 

’n Sleutelfaktor is die koste van dienste, soos vir kitskos of in restaurante. Personeelkoste is baie laer in Suid-Afrika, wat help om pryse laag te hou.

Neem byvoorbeeld Nando’s: In Suid-Afrika kos ’n heel hoender R199, terwyl dieselfde hoender in Brittanje teen £15,95 (R370) verkoop word – 87% meer. ’n Pitabroodjie met ’n slaai kos plaaslik R97, maar oorsee kos dit £11,80 (R275) – 184% hoër.

Selfs Ocean Basket toon groot prysverskille. Vis en skyfies kos R120 in Suid-Afrika, maar £12 (R280) in Brittanje – 133% meer. Dieselfde maaltyd met 10 koningsteurgarnale kos R385 plaaslik, maar £36 (R840) oorsee – 118% meer.

Ten spyte van hoër inkomste in die VK, bly die lewenskoste, veral vir dienste en voedsel, baie hoër as in Suid-Afrika.

Wat van bier?

’n Algemene vergelyking wat veral gegoede of selfs hoër-middelklas Saffas geniet om rondom die braai te maak, is die prys van 500 ml (’n pint) bier.

In Londen sal dit moeilik wees om minder as £7 vir ’n pint bier te betaal. Dit is byna R165. In Johannesburg kos 500 ml-tapbier by ’n kroeg byna ’n kwart van hierdie prys.

Suid-Afrika se lewenskoste in vergelyking met 197 lande, opgedateer in Oktober 2024.

Selfs in Kaapstad, waar ’n glas tapbier in Breëstraat begin by R65, is dit sowat 40% van die prys in Brittanje. Moenie probeer om plaaslike pryse te vergelyk met dit wat jy aan die oewer van die Teems sal betaal nie, waar pinte sowat £9 kos, óf R210.

Dit verduidelik waarom tienduisende Britte elke Desembervakansie Kaapstad toe gaan – al is dit relatief duur daar in vergelyking met die res van SA.

As die Nasionale Tesourie egter sou besluit om vas te byt op die pad van sober besluite ten koste van openbare beleggings, loop dit die risiko om armoede te verdiep en vooruitgang te stuit. 

Suid-Afrikaners verdien meer as net beloftes; die begroting moet staatsredeverpligtinge finansier om die grondslag te lê vir ’n regverdige en voorspoedige nasie.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.