Business
Kommer oor ekonomiese gevolge van diplomatieke gissings─── ELZETTE BOUCHER 14:57 Mon, 10 Feb 2025
![Kommer oor ekonomiese gevolge van diplomatieke gissings Kommer oor ekonomiese gevolge van diplomatieke gissings | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/f4dc66b4-b7db-478c-b2aa-de1944d6adaf.jpg?crop=0,127,800,577)
Terwyl die Suid-Afrikaanse regering sê hy bly verbind tot diplomatieke oplossings vir geskille wat uit die onlangs bekragtigde Onteieningswet voortspruit, is ontleders erg bekommerd waar hierdie politieke bekgevegte die land se ekonomie laat.
Amerika se president, Donald Trump, het die naweek ’n uitvoerende bevel onderteken wat finansiering aan Suid-Afrika snoei weens kommer oor menseregtevergrype met betrekking tot die nuwe wetgewing:
- Die Verenigde State sal die hervestiging van Afrikaner-vlugtelinge bevorder wat vlug vir regeringsgesteunde rasgebaseerde diskriminasie, insluitend die konfiskering van eiendom op grond van ras.
- Alle uitvoerende departemente en agentskappe, insluitend die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling, tot die maksimum mate wat die wet toelaat, buitelandse hulp of bystand aan Suid-Afrika sal staak en alle beskikbare gesag en diskresie sal gebruik om sodanige hulp of bystand te beëindig.
- Die hoof van elke agentskap mag die verlening van enige sodanige buitelandse hulp of bystand toelaat indien dit na sy of haar diskresie nodig of toepaslik is.
Africa Growth and Opportunity Act
Die ekonoom en ontleder dr. Roelof Botha het in ’n onderhoud met Nuuspod sy kommer uitgespreek oor die impak wat Suid-Afrika se diplomatieke besluite op die ekonomie mag hê, veral in die lig van die moontlikheid dat die land van die Africa Growth and Opportunity Act (Agoa) verwyder kan word.
“Vir baie Suid-Afrikaners is ons buitelandse beleid oor die laaste paar jaar ’n absolute verleentheid. Ek wonder of enige iemand in die regering weet hoeveel voertuie en onderdele, wat in Suid-Afrika vervaardig word, verlede jaar na Amerika uitgevoer is.
“Die antwoord is R35 miljard. As ons van Agoa afgeskop word, verdwyn daardie uitvoere soos mis voor die son.”
Botha het kritiek uitgespreek op die regering se hantering van diplomatieke sake sonder om die makro-ekonomiese impak daarvan deeglik te oorweeg.
“Die ANC neem besluite op die diplomatieke terrein sonder dat hulle ooit ’n deeglike impakstudie doen. Hulle dink nie oor wat dit aan die ekonomie en werkskepping kan doen nie.”
Negatiewe impak
Hy het ook ’n beroep op beleidshervorming gedoen. “Ons moet ophou om die ekonomie deur rassebeleid te beperk. Laat die ekonomie groei, dereguleer en maak dit makliker vir mense om besighede te begin.”
John Steenhuisen, minister van landbou, het ook sy kommer uitgespreek oor die moontlike nadelige uitwerking van die jongste uitvoerende bevel deur die Amerikaanse regering op Suid-Afrika se ekonomie, veral die landbousektor.
“Ek is uiters bekommerd, en ek dink as Suid-Afrikaners behoort ons almal bekommerd te wees. Amerika is ’n baie belangrike handelsvennoot vir ons. Verlede jaar het ons meer as $21,1 miljard se handel gedoen, waarvan $3,1 miljard deur Agoa gegaan het,” het hy aan die SAUK vertel.
“Ons moet nou vinnig optree om hierdie verhouding te herstel. Hierdie situasie is die gevolg van dekades se swak beleidskeuses en verkeerde besluite. Die mees onlangse hiervan is die ondertekening van die Onteieningswet.
“Daarom glo ek daar moes ’n breër bespreking binne die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) oor hierdie kwessie gewees het.”
‘Geen massa-onteiening van grond sonder vergoeding in Suid-Afrika nie’
Volgens Steenhuisen moet Suid-Afrika nou prioritiseer om sy ekonomie en werksgeleenthede te beskerm, en dit kan slegs deur doeltreffende dialoog met die VSA-regering bereik word.
“Die Trump-administrasie het hierdie uitvoerende bevel uitgereik op grond van inligting wat moontlik nie die werklike stand van sake in Suid-Afrika weerspieël nie. Daar is geen massa-onteiening van grond sonder vergoeding in Suid-Afrika nie.
“Dit beteken egter nie dat die Onteieningswet nie skadelik is nie – en daarom word dit regtens deur die DA uitgedaag. Ons moet die probleme regstel deur die regte beleid te implementeer en nie deur fabriekwerkers, boere en plaaswerkers te straf nie,” sê Steenhuisen.
Ronald Lamola, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sê die regering het kennis geneem van die bevel. “Dit is uiters kommerwekkend dat die fundamentele uitgangspunt van hierdie bevel nie feitlik korrek is nie en versuim om Suid-Afrika se diep en pynlike geskiedenis van kolonialisme en apartheid te erken.”
Voorts sê Lamola die regering is bekommerd oor “wat blyk ’n veldtog van waninligting en propaganda te wees, gerig op die verdraaiing van ons groot nasie”.
‘Ons sien uit na gesprekke met die Trump-administrasie’
“Dit is teleurstellend om te sien dat sulke denkrigtings blykbaar guns gevind het onder besluitnemers in die Verenigde State van Amerika.
“Ons sien uit na gesprekke met die Trump-administrasie oor ons grondhervormingsbeleid en kwessies van bilaterale belang. Ons is oortuig dat ons uit daardie gesprekke ’n beter en gesamentlike begrip oor hierdie kwessies sal deel.”
OFM Nuus mvh