On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Business

Vermiste skouhond veilig teruggevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:45 Thu, 20 Jun 2024

Vermiste skouhond veilig teruggevind | News Article
Die gesoek na Nala het twee dae geduur en haar verdwyning is wyd op sosiale media gedeel. Foto verskaf

“ ’n Hond soos Nala se waarde oorsee is tussen R150 000 en R300 000 en haar kleintjies kan vir tussen R15 000 en R25 000 verkoop word.”

’n Gesogte skouhond wat vermis was, is met haar eienaar herenig.

Nala (2), wat 63 kg weeg, was twee dae vermis ná ’n ongeluk.

Die voorval het omstreeks 01:00 Sondag (16/6) plaasgevind op ’n grondpad tussen Hertzogville en Boshof in die Wes-Vrystaat. Nala en haar eienaar, Nico Okkers, was op pad terug Wes-Kaap toe nadat hulle aan ’n internasionale boerboelkompetisie op Parys deelgeneem het.

Nala het ’n indrukwekkende vierde plek uit 33 boerboele behaal. Dit was Nala se eerste keer wat sy aan ’n internasionale kompetisie deelneem, maar sy het al aan vele plaaslike kompetisies deelgeneem.

Okkers, ’n boerboelteler van Eminent Boerboel, het ses honde ingeskryf vir die internasionale kompetisie in die AfriDome op Parys.

Okkers, ’n boerboelteler van Eminent Boerboel, by Nala. Foto verskaf

Terwyl Okkers ná middernag grondpadlangs tussen Hoopstad en Boshof gery het, het die raam van die wa wat die honde dra, meegegee waar die pad ’n slegte draai maak.

“Die impak van die botsing het veroorsaak dat die deure oopgegaan het. In die chaos het twee ander honde uit die sleepwa geval, maar ek kon hulle vinnig teruggekry. Hulle het gelukkig nie beserings opgedoen nie, maar die stikdonker het die soektog na Nala uitdagend gemaak.”

Die gesoek na Nala het twee dae geduur en haar verdwyning is wyd op sosiale media gedeel. Okkers het ’n R5 000-beloning uitgeloof vir Nala se veilige terugkeer.

Nala, die boerboel. Foto verskaf

“Die gemeenskap se hulp het my verbaas, en hulle was baie ondersteunend. Iemand het my Dinsdag gebel en gesê hulle het Nala gesien op die grondpad tussen Bothaville en Hoopstad. Die mense het ’n uur lank probeer om haar in hul motor in te lok.”

Okkers het egter weer die lang pad na die Vrystaat aangedurf om Nala te kom haal.

’n Hond soos Nala se waarde oorsee is tussen R150 000 en R300 000 en haar kleintjies kan vir tussen R15 000 en R25 000 verkoop word. Maar, sê Okkers, dit “gaan nie oor die geld of haar markwaarde nie. Ek het haar al vandat sy ’n klein hondjie was en sy is soos ’n kind in my huis.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.