Business
Ramaphosa bekragtig tweepot-aftreestelsel─── 12:30 Tue, 04 Jun 2024
“Die nuwe stelsel, wat buigsamer toegang tot aftreefondse moontlik maak, vereis egter deeglike oorweging.”
Lede van pensioenfondse sal toegang kry tot aftreespaargeld sonder om te bedank of hul volle pensioengeld te laat uitbetaal, nadat pres. Cyril Ramaphosa die Wysigingswetsontwerp op Inkomstewette, wat ’n “tweepotstelsel” daarstel, bekragtig het.
Terwyl daar baie klem gelê word op die feit dat mense in noodgevalle toegang tot hul “spaarpot” sal kan kry, sal die nuwe stelsel ook twee derdes van jou aftreespaargeld tot aftrede ontoeganklik maak.
Aftreefondsadministrateurs gaan binnekort die tweepotstelsel vir pensioenfondse, voorsorgfondse en uittreeannuïteite invoer, maar daar is talle waarskuwings oor die potensiële uitwerking op lede.
’n Derde van jou bydraes sal vanaf 1 September 2024 na jou spaarkomponent gaan. Jy kan een keer elke belastingjaar van hierdie komponent gebruik maak vir ’n noodgeval. Die minimum onttrekkingsbedrag is R2 000 en sal teen jou marginale inkomstebelastingkoers belas word. Jy sal ook ’n verwerkingsfooi betaal.
Twee derdes van jou bydraes word vanaf 1 September 2024 aan jou aftreekomponent toegewys. Jy kan eers by aftrede toegang tot hierdie komponent kry en moet dit gebruik om ’n annuïteit/pensioen te koop.
Die gevestigde komponent van jou aftreepot bestaan uit jou bestaande aftreespaargeld op 31 Augustus vanjaar. Hierdie geld sal beskerm word, en die tweepotreëls sal nie daarop van toepassing wees nie. Tien persent van hierdie aftreespaargeld of R30 000, wat ook al die laagste is, sal na die spaarkomponent oorgeplaas word.
Die nuwe stelsel, wat buigsamer toegang tot aftreefondse moontlik maak, vereis egter deeglike oorweging, veral vir mense bo 55 jaar. Met slegs ’n paar jaar tot aftrede, moet hulle hul bydraes versigtig bestuur om ’n stabiele finansiële toekoms te verseker.
Die stelsel maak spesifiek voorsiening vir individue wat op 1 Maart 2021 reeds 55 jaar oud was. Vanaf 1 September vanjaar kan hierdie individue kies om, wanneer hulle aftree, onder hul huidige stelsel te bly, wat voorsiening maak vir ’n 100%-kontantonttrekking van alle bestaande pensioen- en voorsieningsfondse wat voor 1 Maart 2021 gespaar is. Hulle sal twaalf maande hê om die keuse te maak.
So nie kan hulle die nuwe stelsel kies, wat glo beter inkomstestabiliteit en belastingdoeltreffendheid kan bied.
Die doel van die “tweepotstelsel” is om lede van aftreefondse, wat finansieel onder druk verkeer, beperkte toegang te gee tot ’n gedeelte van hul aftreekapitaal, terwyl die res tot aftrede bewaar word.
The new Two-Pot Retirement System is planned for implementation from 1 Sep 2024. Read through this brochure, https://t.co/RkmbtYak2r and the FAQs here, https://t.co/SF2PC6J39y, to learn more about how the system will work and what to expect. #YourInvestmentYourFuture pic.twitter.com/JZsX2qAjo6
— GEPF (@GEPF_SA) May 23, 2024
Dit is van kardinale belang dat mense wat bydra tot aftreefondse die stelsel volledig verstaan om ingeligte besluite te neem wat ooreenstem met hul langtermynplanne en finansiële gesondheid.
Vanaf 1 September sal alle bydraes tot lede se pensioen- en voorsieningsfondse, sowel as uittreeannuïteite, tussen twee komponente of potte verdeel word – een derde vir spaargeld wat voor aftrede verkry kan word en twee derdes vir fondse wat eers by aftrede met beperkings toeganklik is.
Two-pot retirement system a huge risk for old age, Solidarity warns https://t.co/uznkFENC9E
— SA Labour News (@SA_Labour_News) June 4, 2024
By aftrede sal jy toegang hê tot een derde as ’n kontantenkelbedrag uit jou gevestigde komponent en kan tot 100% toegang tot jou spaarkomponent hê. Die volle aftreekomponent moet gebruik word om ’n verpligte annuïteit aan te koop en geen kontant sal vanaf daardie balans beskikbaar wees nie.
“Die primêre doelwit van die tweepot-aftreestelsel is om buigsaamheid aan fondslede te bied om [beperkte] toegang tot hul aftreespaargeld [in die spaarkomponent] te kry tydens noodgevalle, sonder om bedanking te noodsaak,” het die presidensie bygevoeg.
Ramaphosa het gesê: “Terwyl ons voortgaan met die taak om ons ekonomie te laat groei om meer geleenthede vir alle Suid-Afrikaners te skep en die finansiële kwesbaarheid wat baie individue en huishoudings raak te verminder, bied die nuwe aftreestelsel beskerming en waardigheid aan diegene wat dit die nodigste het om finansiële stres te oorkom.”
En indien jy in die buiteland wil gaan aftree?
Suid-Afrikaners wat beplan om in die buiteland af te tree en toegang tot hul aftreespaargeld wil hê, worstel met hierdie kwessie.
Die verskuiwing van geld na die buiteland is ’n komplekse en verwarrende onderwerp, het Mbalenhle Mahlaba van Tax Consulting SA gesê.
Two pot retirement system summary provided by Liberty. This is being debated in parliament and a vote will happen on the 1st Sept 2024 pic.twitter.com/ejC3st0EEH
— the repo rate and whatever (@rassie_dot_dev) December 13, 2023
“Die impak van die ‘tweepotstelsel’ op uitgewekenes en die gepaardgaande belastingimplikasies bly onduidelik. Die verdeling in twee potte kan die beleggingsgeleenthede beïnvloed wat aan expats beskikbaar is, aangesien verskillende regulasies op elke pot kan geld,” het Mahlaba gesê.
“’n Duidelike en reguit benadering is noodsaaklik om individue te help om die nodige bewyse te bekom en om probleemvrye oorbetaling in die buiteland te fasiliteer, wat volgens die nuwe stelsel dalk eers ná drie jaar moontlik kan wees.”
Dit is jou verantwoordelikheid om die beste, ingeligte besluit in ’n spesifieke situasie te neem gegrond op soveel inligting en advies moontlik om jou korttermynbehoeftes en jou langtermyn- finansiële gesondheid te balanseer.
Goeie advies moet van ’n finansiële adviseur, belastingadviseur en moontlik ’n skuldberader verkry word voordat jy enige aksie neem wat jou kanse om jou beste moontlike aftreeuitkomste te bereik, kan verminder.
OFM Nuus (Bronne: X, Momentum, Liberty, Financial Bunny, GEPF, YouTube, SA Labour News) cg/mvh