On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Arts

’n Vroeë Valentynsdag op Fauresmith met Coenie de Villiers

───   KAYLA BARKER 09:00 Thu, 30 Jan 2025

’n Vroeë Valentynsdag op Fauresmith met Coenie de Villiers | News Article
Coenie de Villiers vier ’n vroeë Valentynsdag deur hierdie vertoning op Fauresmith.

Coenie de Villiers sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklop om te gesels oor die debuut van sy nuwe vertoning “Wie kan my sê van die liefde?”, wat die 12de Februarie in die nuut-gerestoureerde stadsaal op Fauresmith plaasvind.

Coenie de Villiers word allerweë erken as een van Afrikaans se beste liedjieskrywers, maar ook een van Suid-Afrika se voorste klavier-maestro’s, sangers en komponiste. 

Hy het 22 albums op sy kerfstok, talle toekennings en het oor die wêreld heen opgetree. Hier aan huis word hy geken aan hoe mooi hy die Karoo kan besing, veral vir sy werk saam met skrywer Deon Meyer. En dan natuurlik die ikoniese lied Karoonag. 

Maar musiekliefhebbers wat Coenie se werk ken en waardeer, ken hom as die skepper van van die mooiste liefdesliedere in Afrikaans. Uit sy pen en onder sy vingers vloei van die treffendste lirieke en musiek oor die liefde in al sy gedaantes. 

Daar is liedere wat wonder oor die aard van die liefde en komposisies wat die skoonheid daarvan besing. Maar dan is daar ook van die mees aangrypende werk in Afrikaans wat die verlies van liefde vasvang; wat sin maak van die verlies van die liefde, daardie ontwykende vlinder van geluk.

Coenie de Villiers. Foto verskaf

In die debuut-vertoning van “Wie kan my sê van die Liefde”, die 12de Februarie, delf Coenie de Villiers vir die eerste keer diep in hierdie liedereskat om sy liefdesliedere in ‘n enkele vertoning met ‘n gehoor te deel. Hy vertel vir Yolanda hoe hy van hierdie liedjies moes gaan “uitkrap” vir hierdie vertoning, maar daar word ook ’n paar nuwes gespeel en gesing. Kaartjies vir Coenie se vertoning is R150 en bespreking is noodsaaklik. Vir meer inligting kontak vir Lizzy by 071 603 7258.

De Villiers vier ’n vroeë Valentynsdag deur hierdie vertoning Fauresmith toe te bring, waar dit in die nuut-gerestoureerde stadsaal sal plaasvind, ’n juweel wat in die laat 1800’s gebou is. 

OFM cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.