Arts
Die Snowflake in Potch vra, gee kuns tweede kans─── 09:00 Tue, 28 Jan 2025
Die Snowflake in Potchefstroom skop die jaar af met ’n uitstalling “Re-love Art” wat kunswerke ’n tweede kans op liefde gee. Daar word kunswerke uitgestal wat nuwe tuistes benodig.
Die Snowflake in Potchefstroom is onder meer die tuiste van ’n galery wat aan plaaslike kunstenaars ’n platform gee om hul werke ten toon te stel, hul kreatiwiteit te deel en inspirasie te kweek by lede van die publiek om ook hulself deur kuns uit te leef.
Bestuurder by die Snowflake, Martie Bothma, sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklop om te gesels oor hul program vir die eerste helfte van die jaar.
Die Snowflake skop die jaar af met ’n uitstalling “Re-love Art”, wat poog om kunswerke ’n tweede kans op liefde te gee. In Februarie word kunswerke uitgestal wat ’n nuwe huis nodig het.
Dit is onder andere kunswerke van mense wat moet afskaal en ten tyde van aftrede nie al hul kunswerke saam kan neem nie, óf soms stel familie en vriende nie in hierdie kunswerke belang nie. Die Re-Love Art platform bied aan eienaars ’n geleentheid om hul kuns te verkoop en só nuwe liefde te kweek vir die kuns.
In Maart is nuweling Sydney Vos se kunswerke vir die eerste keer te sien by die Snowflake.
In April vier die Snowflake saam met die Potchefstroom Kunsvereniging 100 jaar van Afrikaans met plaaslike kunstenaars wat elk ’n Afrikaanse digter as inspirasie vir hul kunswerke gekies het. Dit beloof om ’n besonderse geleentheid te wees.
Jy kan inskakel by die Potchefstroom Kunsvereniging op Facebook of hulle kontak per e-pos by potchkuns@gmail.com.
OFM Nuus cg/mvh