Arts
ATKV-Tienertoneelkompetisie is oudste in sy soort in Suid-Afrika─── 09:00 Thu, 27 Jul 2023
Die ATKV-Tienertoneelkompetisie is die oudste projek van die ATKV en kweek ná 59 jaar steeds ’n liefde vir toneelskepping, toneelspel en teater-kyk by hoërskoolleerders. Projekorganiseerder JJ van Niekerk vertel meer oor die kompetisie.
Met ATKV-Tienertoneel kry leerders soveel geleenthede moontlik om by al die aspekte van die toneelstuk betrokke te raak, soos die spel, regie, skryf van tekste, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie en selfs bemarking. JJ van Niekerk gesels met Mid-Morning Magic se Yolanda Maartens oor vanjaar se kompetisie.
Hierdie projek vind landwyd plaas deur die aanbied van streekfeeste en spog met ’n nasionale feesfinaal – enig in sy soort – waar die bestes van die bestes gekroon word.
Die ATKV-Tienertoneel is ’n nasionale kompetisie vir hoërskoolleerders; dus mag slegs sekondêre skole deelneem. Skole wat inskryf, mag slegs van hul eie leerders gebruik maak. Produksies waarvan die hele geselskap [die regisseur(s), skrywer(s), spelers en tegniese personeel] almal hoërskoolleerders is, kan ingeskryf word vir die slegsleerdersafdeling. Die ATKV wil ’n skeppende gees onder die leerders aanmoedig en beloon.
Vanjaar neem sowat 3 000 tieners van 24 Julie tot 27 Augustus deel aan agt streekfeeste oor Suid-Afrika heen.
ATKV-Tienertoneel word in die volgende teaters aangebied:
Die Unisa Little Theatre (Pretoria), die Wynand Mouton-teater (Bloemfontein), die Playhouse Drama Theatre (Durban), die Pam Golding Baxter-teater (Rondebosch) en die Little Theatre (Gqeberha).
Die unieke aanbiedingsformaat ontwikkel die jeug se liefde vir toneelspel deurdat die deelnemers aan elke produksie ná afloop van elke optrede met mentorbeoordelaars in ’n tweerigtingsgesprek tree oor hul werk tydens opwindende mentorslypskole.
Vanjaar se mentorbeoordelaars is Solomon Cupido, Lindsey Cele, Mari Molefe van Heerden, Jacques Bessenger, André Lötter, Marlo Minnaar, Marijda Kamper, prof. Marié-Heleen Coetzee, Ilana Cilliers en Wilhelm van der Walt.
Hul taak sal nie net wees om ons deelnemers te inspireer met wenke om hul produksies te verfyn nie, maar hulle het ook die geleentheid om die toppresteerders in elke streek aan te wys.
Die top-8 produksies en die twee beste slegs-leerders-produksies gaan deurdring tot die nasionale finaal, wat van 2 tot 6 Oktober in die Lyric-teater by Gold Reef City (Johannesburg) sal plaasvind. Die aankondiging van die topproduksies vind op Woensdag 30 Augustus plaas.
Klik op die skakel vir programme en kaartjies na die ATKV-Tienertoneelstreekfeeste en beleef die talent van ons jeug wat grensloos die planke tref in ’n teater naby jou: https://linktr.ee/atkv_tienertoneel.