On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Arts

Kanna-wenner Nicola Hanekom: Wat is die nuwe god wat ons skep?

───   11:34 Tue, 16 May 2023

Kanna-wenner Nicola Hanekom: Wat is die nuwe god wat ons skep?  | News Article
Nicola Hanekom met die drie Kannas by haar man, Grant Swanby, en Henét de Villiers van die Het Jan Marais Nationale Fonds. Foto: Natalie Gabriels Photography

“Dit laat my voel asof ek iets beteken, asof mense my werk waardeer omdat hulle iets gevoel het en dit hulle met vrae gelaat het.”

Aan die woord is die talentvolle aktrise en teaterskepper Nicola Hanekom, wie se produksie Mirre en aalwyn onlangs ’n merkwaardige drie Kannas gewen het. Die Kannas word jaarliks toegeken om prestasie in debuutproduksies op die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) te vereer.

Hanekom is bekroon vir beste literêre bydrae vir haar oorspronklike teks, asook as beste regisseur. Die produksie, met Amalia Uys, Daneel van der Walt, Gretha Brazelle en Alyssa van Reenen in die rolverdeling, is ook as beste toneelaanbieding bekroon.

‘ ’n Mens wonder … hoe alles skeefgeloop het’

Mirre en aalwyn vertel die aangrypende verhaal van ’n verlore dogter wat na haar ouerhuis terugkeer. Hanekom sê die verhaal is geskoei op die Bybelse verhaal van die verlore seun. “ ’n Mens wonder waarom was sy weg en hoe alles skeefgeloop het,” vertel Hanekom.

Verskillende temas word deur die storielyn ondersoek. Dinge soos patriargie. “Maar daar word ook gekyk na hoe mense hulself deesdae op sosiale media verafgod.”

Amalia Uys is een van die hoofspelers in Mirre en aalwyn. Foto: KKNK 2023 © Hans van der Veen

Hanekom sê die teaterstuk laat die gehoor met die vraag: Wat is die nuwe god wat ons skep?

“Dit bied ’n kykie in die toekoms en hoe elke besluit deesdae deur ’n algoritme geneem word.”

Hanekom sê sy is dankbaar dat sy verskillende hoede kan dra: as skrywer, regisseur en aktrise. Die een aspek help haar met die volgende een.

“Omdat ek self aktrise is, help dit met die skryf. En ook die regie. Ek weet wat dit verg om eerlike spel te lewer. Ek dink ek is baie empaties omdat ek verstaan. Ek dryf nooit mense harder as wat ek myself sal dryf nie.”

‘As kunstenaars is ons baie positief dat dinge besig is om te herstel’

Sy sê sy is altyd aan die skryf en kry weliswaar haar man, die akteur Grant Swanby, jammer wat moet kyk hoe sy konsert vir die katte hou wanneer sy aan ’n toneelstuk werk.

Vir haar is dit wonderlik om te sien dat daar ’n besliste terugkeer na teaters toe is ná die Covid-pandemie. “As kunstenaars is ons baie positief dat dinge besig is om te herstel.” Sy hoop net die ekonomiese klimaat skep ruimte vir die kunste. Intussen hou sy aan skryf en skep, vir die kunste en die mense wat dit so geniet.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.