Agriculture
Landbounuus-podcast: Landelike veiligheid bly 'n uitdaging in Noordwes─── ELSABÉ RICHARD 14:47 Wed, 19 May 2021
Landelike veiligheid bly een van die uitdagings wat boere in Noordwes in die gesig staar.
Dit is volgens Agri Noordwes se president, Willem de Chavonnes Vrugt, wat byvoeg dat onwettige grondbesettings in die provinsie ook ‘n uitdaging is. De Chavonnes Vrugt sê die organisasie het ‘n virtuele beheerkamer sowat ‘n jaar en ‘n half gelede gestig. Dit is om plaaslike veiligheidstrukture te help wanneer daar ‘n krisis of nood, soos ‘n plaasaanval, ontstaan. Hierdie virtuele beheerkamer stel die organisasie in staat om strukture te help om met die regte persone te kontak wat hulp sal kan verskaf. Hy deel verder dat Agri NW ook betrokke is by plaaslike munisipaliteite.
Sowat 134-duisend voëls in die Wes-Kaap is dood of moes weens voëlgriep van kant gemaak word. Die SABC berig die provinsiale minister van landbou, Ivan Meyer, sê op twee plase is daar bevestigde gevalle van voëlgriep. Toetse word nog gedoen om die H5-mutasie op twee ander plase te bevestig. Die gebiede wat geraak word, sluit in Worcester, Malmesbury en Hopefield. Meyer sê veeartsenydienste ondersoek ook ander moontlike gevalle. Hy het ‘n beroep op die publiek gedoen om bedag te wees op enige buitengewone voëlsterftes en dit aan te meld.
EN
Senior landbou-ekonoom, dr. Johnny van der Merwe van die Noordwes Universiteit, sê die Rand het in die laaste week effens opwaarts gestyg teenoor die Amerikaanse Dollar en dat speenkalfpryse weer redelik stabiel gebly het. Stoorlam- en lamspryse het weer skerp gestyg en is byna 17% meer as verlede jaar in dieselfde tyd. Van der Merwe sê hoenderpryse het ook verder gestyg terwyl varkpryse oor die algemeen hierdie week sywaarts beweeg het.
OFM-nuus