Agriculture
Landbounuus-podcast: Drie in NK vas met bedreigde plante─── 12:12 Wed, 23 Dec 2020
Drie verdagtes in die Noord-Kaap is vasgekeer met bedreigde plante ter waarde van R500 000, by Steinkopf in die Namakwa Distrik.
Die waarnemende Provinsiale Kommissaris van die Suid Afrikaanse Polisiediens in die provinsie, Henriette de Waal, het erkenning gegee aan die lede wat gehelp het met die inhegtenisnemings. Sy het aan OFM-nuus gesê in die eerste Intelligensie Operasie het lede van die Springbok Veediefstal en Bedreigde spesie-eenheid, onder die leiding van Kaptein Karel du Toit, twee verdagtes Sondag vasgetrek waar hul glo in die besit van meer as 2 000 van die plante, ter waarde van R400 000, gekry is. Die twee sou na verwagting Dinsdag in die Springbok Landdroshof verskyn. 'n Derde verdagte is in hegtenis geneem in 'n ander gesamentlike operasie, ook glo in die besit van bedreigde spesies ter waarde van R100 000. De Waal sê ondersoeke duur steeds voort.
EN
Plaasmoorde in die Vrystaat staan tans op tien sedert April vanjaar - insluitende die onlangse plaasmoord van Poenkie Bisset van Smithfield. Die Vrystaat is gedurende 1 April tot 30 November 2020 deur 53 plaasaanvalle en landbougeweld geruk. Dr Jane Buys, Veilligheidsrisko- analis van Vrystaat Landbou noem dat daar in dieselfde tydperk in 2019, 34 plaasaanvalle was wat ses moorde insluit. Dit dui op 'n toename van 19 plaasaanvalle in die Vrystaat. Sy noem dat daar in die oorgrote meerderheid van aanvalle kontant, selfone of vuurwapens gesteel is en tydens drie aanvalle is voertuie ook beroof. In nege ander aanvalle is niks geroof nie danksy die reaksie van die slagoffers. In drie ander aanvalle is skape en beeste gesteel. Buys het uitgewys dat meeste van die plaasaanvalle in November plaasgevind het, en daar word verwag dat plaasaanvalle met die aanloop van die feesseisoen moontlik kan toeneem.
OFM-nuus/Mia-Leigh Cloete