Agriculture
Tienjarige kraai weer koning in skole-afdeling van Boereplanne─── 13:00 Fri, 17 May 2024
Die Boereplanne-kompetisie op NAMPO Park inspireer selfs die jonges om vroeg-vroeg al kranige planmakers te wees.
Die Graan SA, Omnia en Landbouweekblad se Boereplanne Kompetisie is een van die groot trekpleisters by NAMPO Oesdag.
Die tienjarige David de Wet van Ermelo is weereens as die wenner gekroon in die skole-afdeling van die Boereplanne-kompetisie. Met nóg ’n hek-toemaak-patent die keer – die Spoormeester, waarvan hy al 800 eenhede verkoop het. Hy’t verlede jaar aandag getrek met sy Hekmeester, ’n hefboom toestel wat boere kan gebruik om draadhekke moeiteloos oop en toe te maak.
Die Spoormeester werk ook soos die Hekmeester, maar is gemaak om gebruik te word op hekke met dik houtpale soos spoorweg-dwarsleggers.
De Wet se twee ander uitvindings, die Hekmeester Plus en die Veemeester, ’n besem gemaak van ’n herwinde plastiekbottel, het ook onderskeidelik tweede en derde plek behaal.
Die kranige jong entrepreneur van Mpumalanga gebruik die opbrengs van sy uitvindings om speenkalwers aan te koop wat hy weer verkoop.
’n Veeboer van Botswana, Bertus Goosen, en sy dogter Nicolene, het ook weer pryse ingeryg in die kompetisie. Bertus was tops in die A-afdeling (nuwe masjinerie) met sy vuurvegter asook D-afdeling (huis) met sy frikkadelmaker, en Nicolene in die C-afdeling (gereedskap) met haar lugdruk-domkrag asook E-afdeling (ope) met hamermeuldeksel. Afdeling-B (gemodifiseerde masjinerie) is deur Gert van Tonder van Reitz gewen met sy hysbakwaentjie.
Graan SA se deelnameprys is deur Lourens Jacobs van Secunda gewen, wat tans landbou-ekonomie aan die Noordwes Universiteit studeer en hout verkoop om sakgeld te verdien. Hy’t ’n slim plan met ’n kettingsaag gemaak om stompe vinnig en veilig kleiner te kry.
Die kommersiële prys is toegeken aan Ferdi Bouwer van Pretoria, wat die Polekat, ’n peutervrye hekmotor, ontwerp het.