Central SA
Bloemfontein Children's Choir: Nuwe musiekvideo bekend gestel─── 15:12 Tue, 06 Jul 2021
![Bloemfontein Children's Choir: Nuwe musiekvideo bekend gestel Bloemfontein Children's Choir: Nuwe musiekvideo bekend gestel | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/2c685d79-cbab-47fb-9073-d2012784b240.jpg?crop=0,93,800,543)
Die Bloemfonteinse kinderkoor, nou genoem die Bloemfontein Children's Choir (BCC), stel Woensdag 'n splinternuwe musiekvideo, "Sisi ni Moya" (We are one), bekend.
Die koor is vanjaar 34 jaar oud, en volgens BCC se dirigent, Werner Stander, is die doel van die video om n boodskap aan almal te stuur wat deur moeilike tye gaan. Stander sê die video fokus daarop om die herlewing van musiek onder moeilike omstandighede te vier. Die video is opgeneem by bekende landmerke in Bloemfontein. soos die Naval Hill-natuurreservaat, Woodland Hills, Emoya-landgoed en die NG Kerk Bloemfontein Wes, wat tans die tuiste van die koor is.
Stander voeg verder by dat die video van Woensdag af op alle sosiale media platforms beskikbaar is.
Die produksie, met ondersteuning van die Barzani Groep, vorm deel van 'n korporatiewe inisiatief, "Changing Lives", waartydens die Barzani Groep landwyd sowat 1500 komberse beskikbaar gestel het aan individue en organisasies wat dit die meeste nodig het.
OFM News/Blaine Jones