Vrystaat Landbou vier 120 jaar
Vrystaat Landbou vier op 19 Maart 120 jaar in georganiseerde landbou. Vrystaat Landbou is ’n vrywillige organisasie met 146 boereverenigings wat by die organisasie geaffilieer is. Hierdie boereverenigings bestaan uit ongeveer 2 800 lede, wat of in persoon of as regsentiteit by Vrystaat Landbou lidmaatskap het. Die provinsie is in 20 streke verdeel, wat elk ’n streekverteenwoordiger het. Hulle verteenwoordig dan die streke op die uitvoerende bestuur van die organisasie.
Die hoogste gesag in die organisasie berus by die kongres. Die uitvoerende bestuur is die hoogste gesag wanneer die kongres nie in sitting is nie, maar die bestuur moet verantwoording doen aan die kongres. Die uitvoerende bestuur stel van tyd tot tyd komitees saam en elke komitee sal uit eie geledere ’n bestuur verkies.
Die boereverenigings en komitees is die organisasie se hartklop van Vrystaat Landbou en is verantwoordelik vir werk ten opsigte van beleid en toepassing daarvan ten einde die ontwikkeling, winsgewendheid, stabiliteit en volhoubaarheid van landbou in die Vrystaat te versterk.
Daar is tans agt komitees wat verantwoordelik is vir aangeleenthede soos landelike veiligheid, kommersiële sake, natuurlike hulpbronne en landbou-ontwikkeling met arbeid as subkomitee, asook die Jongboer-komitee. Daar is intern ook ’n bemarkingskomitee en finansiële komitee. Nege personeellede is tans werksaam by die organisasie en die kantoor is in Bloemfontein geleë.
Die organisasie is ook by Agri SA geaffilieer en verteenwoordig sy lede op nasionale vlak wanneer daar oor aangeleenthede soos landelike veiligheid, kommersiële sake, natuurlike hulpbronne, grondsake en arbeid besluite geneem en beleid gevorm word.
Om meer oor Vrystaat Landbou te leer, besoek gerus hul webwerf en volg hul sosiale media.