Yellow Door
Die liefde is ’n oerwoud─── ELZETTE BOUCHER 09:53 Thu, 20 Nov 2014
Bome van goed en kwaad was blykbaar teenwoordig gedurende hierdie dekade van haar lewe. Elzette Boucher lewer ’n verkorte vertelling van ’n dekade van wellus en wanhoop – soos dit ’n goeie liefdesverhaal betaam…
Dit alles het begin en ge-eindig met ‘n boom. Wel, soortvan.
Onder ‘n boom buite die Kaf op Kovsies….
Dit was ‘n hoë boom oortrek met welige groen blare wat ‘n soel skaduwee gegooi het op die hitte van daardie eerste klasweek dag - daar waar ons gesit het in ons afgryslike akademiese drag.
Ons het vir die eerste keer nommers uitgeruil en ek’t gewonder of hy die een sou wees…
Intussen was daar baie boom en bome… ‘n Sering in my koskuis parking lot. ‘n Sipres voor sy kamervenster.
Ag wie bluf ek nou, ek weet nie regtig veel van bome af nie, solank hulle nice blare en stewige stamme het…
En toe was daar die boom op die rooi plein… Hy’t in die skadu gesit; ek’t gestaan. Ek’t verkeerd gekies en gevra hy moet gaan…
TIMBER!!! ‘n Seder val in liefdesland. Dis ook maar net ons wat hoor en die lewe gaan aan… Die wêreld is ‘n oerwoud en mens vergeet maklik ‘n ander se bestaan.
Die ding van seders is egter dat hulle dikwels sterk wortels het. Al kap jy hulle af, bly daar iets agter in die sand…
En toe op ‘n dag, nadat daar weer nuwe lote uitgeloop het, staan ons onder ‘n boom op sy pa se plaas. Dit was ‘n wintersnag, maar ons het gereik na die sterre…
En ek was happy en ek het geglo in bome. Dat hulle ook nuttig kan wees vir asem en vir skaduwee of papier en so…
Dalk het ek te gou weer op bome vertrou…. Daar’s nie veel bome in die Karoo nie. So wat sou ek nou van bosbou af weet.
Op die sand, ver van die lanings bome in die straat langs die huise op Jeffreysbaai, vertel hy my toe dat hy sou wou weggaan; oor die waters wou weggaan…
Toe plant hy lanings en hedges vir lanies in Lancashire of een of ander gesofistikeerde shire waar die hulp, gretig vir die Pond, meestal van een of ander agtergeblewe land af kom. En ek gun hom sy avontuur en sy hedges en sy…
Ek gaan soek toe my eie bonsai in die Ooste. Dalk sou ek genoeg blare bymekaarmaak om te gaan kyk hoe sy bome lyk…
Ek moes liewer nie verwag het dat ‘n boom buite sy seisoen sal verkleur nie…
Daar sit ek toe onder ‘n groepie winter wilgers in Highgate cemetery voor Karl Marx se graf en kyk op na die grys lug agter kaal takke en besef…. Ek gaan hom nooit onder die kissing tree voor my ouerhuis vasvat nie… (Dis nou mnr. X en nie mnr. Marx nie).
En so kring die jare jaar na jaar om die boomstamme…
Die boom voor die kaf is groter; ek was nou die dag weer daar. Die rooiplein short ‘n knewel – ‘n groot akker of denneboom. Wat by die koshuise aangaan is ek nie seker nie behalwe dat daar seker wel boom is…
Ek wonder hoe lyk die bome in die bosveld daar waar hy nou is. Is hulle welig soos die een by die kaf of kaal soos die een by Highgate…