Yellow Door
Die laaste eenhoring─── ELZETTE BOUCHER 13:51 Wed, 08 Oct 2014
Die eenhoring is ’n seldsame dier wat net diep binne die woud op sekere maanligaande gesien kan word. En as jy mooi luister kan jy hoor hoe hy sing. Maar selfs dan is dit moeilik, skryf Elzette Boucher.
Nie almal kan die eenhoring sien nie, maak nie saak hoe helder die maan skyn nie. Mens het ’n sekere geaardheid nodig om die fyn lyne raak te sien. Net die opregtes kan hom gewaar tussen die skadu’s. En daarom glo baie mense nie in sy bestaan nie.
Die eenhoring is ’n baie skaam dier. Hy weet nie hy's eintlik majestieus nie. Wanneer hy sy kop optel nadat hy versigtig aan die koel groen gras onder by die boomstamme geknibbel het en sy silwer maanhare skitter soos sit saggies dans saam met die wind, lyk dit asof hy in beheer is van die heelal. Hy ken al die geheimenisse van die tyd en selfs dié voor die mensdom die sekondes begin afmeet het.
Dié misterieuse bosbewoner se mees aangrypende eienskap is egter sy hart. Sy mag lê nie in sy wapen nie, maar in sy meegevoel. Met sy magiese krag kan hy mense heel maak.
Hoewel die eenhoring meestal ’n rustige dier is, is hy steeds ’n wilde dier wat nie maklik getem kan word nie.
Eenmaal was daar ’n eenhoring, die laaste eenhoring, wat gesmag het na die wêreld buite die woud. Hy wou draf saam met die perde van die vlaktes. En runnik soos hulle. Maar hulle was bang vir sy horing en wou nie saam met hom draf en runnik nie. Die perde was nie so majestieus soos die eenhoring nie en hulle was jaloers op sy kennis.
Daar was egter ’n opregte wat soms met sononder op ’n perd na die rand van die woud gery het. Daar het sy eenmaal die buitelyne van die skitterwit eenhoring in die sagte aandlig gewaar. Toe sy die hings stuur om nader te gaan, het hy ongeërg omgedraai en met haar terug huiswaarts gespoed.
Die eenhoring en die meisie het lank oor mekaar gewonder, maar hy sou nooit sy kop op haar skoot neerlê soos die legendes dit wou hê nie.
Die jagters het van die eenhoring te hore gekom. En begin planne beraam om hom te vang. Want sien, die jagters het geglo dat dié magiese dier se horing baie kosbaar was – al was dit nie sy kosbaarste einskap nie.
Om ’n eenhoring te vang is glad nie maklik nie, veral omdat mens nie die dier kan sien as jy bybedoelings het nie. Dit was selfs moeiliker vir die jagters wat op die beterweterige perde gery het. Hulle sou ’n ander aanslag moes neem.
Met slinkse praatjies het die jagters die opregte meisie omgepraat om hulle na die eenhoring te lei. Die oomblik toe die eenhoring die meisie op die grasvlakte sien staan, het hy uit die beskerming van die woud beweeg. Die jagters was vining. Hulle het dit reggekry om die eenhoring in ’n lokval te lei en het sodoende sy horing vermy.
Die eenhoring was vas. Hy sou die volgende dag ver van sy bekende woud weggevoer word. Die enigste manier om te ontsnap sou beteken day hy sy horing moes prysgee.
Terwyl die jagters geslaap het, het die meisie na die eenhoring, nou vasgevang in ’n piepklein hokkie, teruggekom. Terwyl die trane oor haar wange geloop het, het sy die dier se magiese wapen afgesaag sodat hy uit sy tronk kon ontsnap.
Die eenhoring is terug na die woud waar almal hom nou tussen die blare kon sien. Behalwe die meisie.
Die perde van die vlaktes het hulle nou nie veel aan die eenhoring gesteur nie, want hy’t soos hulle gelyk. Hulle het saam op die vlaktes gallop en gerunnik. En die eenhoring was gelukkig. Vir ’n oomblik.
Die meisie het egter nou verby hom gekyk as sy tot by die rand van die woud gery het. Sy het elke keer gewonder waar die eenhoring is. Hy was nie meer in die woud nie, maar op die vlakte.
Op ’n dag skrik die meisie se hings vir ’n slang by die oewer van die rivier wat deur die woud loop. Sy beland in die water terwyl die perd laat spaander.
Terwyl die eenhoring aan die koel groen gras knibbel, hoor hy ’n gespartel. Hy tel sy kop op en luister. Die klank kom van die rivier. Die meisie se perd kom verskrik en alleen verby hom gedraf.
Die eenhoring haas hom na die klank en sleep die meisie uit die water uit. Toe sy opkyk na die wit perd sonder ridder glimlag sy en sê: “Daar is jy…”
Soos dié woorde oor hom spoel besef die eenhoring dat hy in wese nie sy naam is nie. Sy krag lê in sy hart. Hy is nie dit wat hy het nie, maar wie hy is.
Die laaste eenhoring sing nou elke aand diep in die woud waar hy vry loop sonder om gepla te word. Hy droom nie meer van die vlaktes nie en wonder ook nie so baie oor die meisie wat nog soms na die rand van die woud staar en na hom soek nie.