Yellow Door
Sit dit af! Sit dit af!─── DANE BEISHEIM 09:07 Fri, 17 Oct 2014
Dane Beisheim het nou al baie konserte in sy tyd bygewoon, en het bewus geword van ’n lelike ding wat besig is om kop uit te steek.
As ietwat van ’n veteraan wanneer dit kom by die bywoning van musiekfeeste en vertonings, is dit met opgewondenheid maar tog ook ’n sekere mate van bekommernis wat ek die dae aftel tot Amerika se legendariese rockers die Foo Fighters hierdie November vir die eerste keer in Suid-Afrika optree. My kaartjie is reeds gekoop, ek het reëlings getref om by vriende oor te slaap vir die aand, en ek het begroot vir die hele affêre. My bekommernis spruit egter voort uit die dinge waaroor ek nie beheer het nie – naamlik my mede-konsertgangers...
Dit is vir ’n geruime tyd reeds my oortuiging dat konserte perfek sou wees as dit nie was vir die ander mense by die opvoering nie. Ek verstaan heeltemal dat ruk-en-rol konserte behels dat jy in die geselskap van ’n klomp oproerige (en gewoonlik baie dronk) mense gaan wees. Dit wil egter vir my oor die afgelope paar jaar voorkom asof dinge besig is om stelselmatig te vererger. Daar is nou iets veel slegter as die beskonke massas wat jou stamp en stoot en op jou tone trap. Ek praat hier van die haatlike fluoresserende glans van selfone en tablette se skerms.
Die alom teenwoordigheid van hierdie hedendaagse toestelle by konserte oor die laaste paar jaar het daartoe gelei dat ’n groot gedeelte van die gehoor skaars aandag aan die aksie op die verhoog gee. Om die omvang van die probleem te illustreer: Die Britse sangeres Kate Bush het onlangs ’n beroep op haar aanhangers gedoen om hulself te weerhou van die gebruik van selfone, kameras en tablette tydens haar vertonings en om net die musiek te geniet. So het Jack White, voorheen van die groep The White Stripes en deesdae solo kunstenaar, ook onlangs uitgevaar: “The bigger idea is for people to experience the event with their own eyes and not watch an entire show through a tiny screen in their hand.”
Ek is geneig om met die man saam te stem. Wat is die punt daarvan om sulke vertonings te wil opneem? Sodat jy dit later op sosiale media soos Facebook of Instagram kan gaan plaas, en vir al jou sogenaamde vriende wat jy selde/nooit sien te wys wat ’n ryk kosmopolitaanse bestaan jy lei? Nee sies man, sulke selfbehepte beeldpoetsery is nie mooi nie!
Die meeste van die tyd is jy ook so vêr weg van die verhoog dat jy na die tyd geen detail in jou fotos of video sal kan sien nie – net ’n paar wasige figure en ligte. Sê wat jy wil van jou iPhone se fotokwaliteit, maar dit het nie die kragtige vermoëns van byvoorbeeld ’n Canon EOS 7D Mark II kamera met ’n telefoto lens nie. Daar bestaan niks wat kers vashou by die menslike oog se beraamde 576 megapixles nie. Boonop sal die klank in jou videos ook vreeslik power wees vanwee die feit dat daar 20 000 gillende mense om jou is.
Die hele punt van sulke opvoerings is dat dit vlietend is – Nie enige twee vertonings (al is dit deur die selfde kunstenaars) is ooit presies eenders nie. Dit hang alles af van die betrokke aand, die skare, en ’n magdom ander invloede wat bepaal hoe goed of sleg ’n optrede gaan verloop. En wanneer dit verby is, dan kan jy dit altyd met die magtige ingebore vermoeëns van jou gedagtes en herinneringe voor jou geestesoog oproep. Dit is wat sulke ervarings so kosbaar maak. Gebruik bietjie jou eie brein man!