Yellow Door
Oppikoppi Bewilderbeast: Ek was daar, ek was vuil, en is nou weer skoon!─── DANE BEISHEIM 16:21 Wed, 21 Aug 2013

Dane Beisheim was by Oppikoppi. Hier volg ’n hewig verkorte weergawe van daardie langnaweek se gebeure.
Woensdag, met ons aankoms by Oppikoppi, word my foon summer afgeskakel, en vir die volgende drie dae dra ek amptelik geen kennis van plaaslike tussenverkiesings in Tlokwe of plaasmoorde in Parys nie. Van Donderdag tot Sondag is dit net ek, my vriende, musiek en ’n meer genotvolle waansin as wat in die nuuskantoor (waar ek my brood en botter verdien) gevind kan word. Hierdie was die derde jaar wat ek die Oppi-ervaring aangedurf het saam met my boesemvriend en musikale geesgenoot Gerdus Senekal. Eerklikwaar sou ek nie Oppikoppi sonder Gerdus kon oorleef nie. Hy is ’n gesoute Oppikoppi-beskermheer, wat telkemale al in die verlede gesorg het dat ek myself nie heeltemal tussen die stof en doringbome verloor nie.
Met ons aankoms word daar onmiddellik kamp opgeslaan, want ons weet teen hierdie tyd reeds dat van uitstel kom afstel – en niemand is geneë daarmee om die lang koue nagte in hulle karre te slaap nie. Behalwe natuurlik Gerdus se jonger boetie Stiaan, wat soos ’n wafferse Bear Grylls die agterkajuit van sy bakkie vir die langnaweek as domisilie ingerig het kompleet met kampbed en linne vir ’n gemaklike nagrus. Slim en luuks van die man! Sodra die kamp gereed is word die eerste bier geknak. Daardie aand om die kampvuur verstom ek en my maats onsself aan die kampeerders oorkant die pad, (ons woon in DJ Bob Laan hierdie jaar – naby aan die hekke wat lei na die verhoë sowel as die ablusiegeriewe), wat op die oog af daarop uit is om hulself te ruïneer nog voor die fees amptelik begin het. Verskeie bokspronge oor ’n kampvuur wat maklik 2 meter hoog is word gevolg deur ’n vuurwerkvertoning. Ons skud net ons koppe. Hierdie ouens is duidelik Oppikoppi-maagde. Anders sou hulle geweet het dat ’n onverskillige benadering tot vuur en die droë bosveld omgewing nie maats is nie. En niemand wil bekend staan as die ou wat Oppikoppi afgebrand het nie ...
Donderdagoggend skop ons op die regte wyse af: Met spek, eiers en roosterbrood! ’n Meer verfynde palet en die voordeel van ’n vaste inkomste beteken dat ons nie meer soos armsalige studente aankarring met blikkieskos by Oppikoppi nie. O nee, die vrugte van ons daaglikse swoeg en sweet word ruiterlik hierso gepluk! Na ontbyt vertrek ons na die verhoë toe, waar daar onder die koeltebome gesit en kuier word met ou vriende en Oppi-regulars terwyl lekker tunes in die agtergrond die klankbaan van ons fees vorm. My ore word spesifiek geprikkel deur Savage Lucy – ’n instrumentele psigedeliese/post-rock-trio wat se klank sterk herinner aan die oorsese groepe Explosions In The Sky en 65 Days of Static en selfs so bietjie Pink Floyd. Ek verwonder myself net weereens aan die uitmuntende kwaliteit van ons plaaslike musikante! Plat op my boude onder die bome van die Oppikoppi-feesterrein neem Savage Lucy my toe op ’n sensoriese reis deur allerlei wonderlike en eksotiese landskappe. Een van die hoofredes waarom ek Oppikoppi besoek is om juis sulke interessante nuwe bands te ontdek om my eie musikale horisonne te verbreed.
Later die middag gaan kyk ons na Jet Black Camaro. Hulle kombinasie van blues en rock tesame met ’n uiter charismatiese voorsanger lei vermoedelik daartoe dat die gode hul vertoning misgis vir ’n reëndans (hulle het selfs ’n standbeeld van ’n rooihuid-indiaan op die verhoog), want kort voor hul optrede verby is begin daar sulke groot vet druppels uit die hemel neerdaal! Genadiglik het dit net die ergste stof gaan laat lê, en hoef ons nie bekommerd te wees dat ons tente gaan wegspoel nie. ’n Ander instrumentele groep, Kidofdoom, se musiek tesame met die beelde op die skerm agter hulle voer my mee op ’n uiters kragtige wyse. Die kombinasie van grandiose natuurtonele met hul ryk, vol klank maak dat ek sommer tranerig raak. Daarna is dit tyd vir iets aansienlik harder! Pestroy is oudergewoonte by Oppikoppi, en hulle is duidelik aangevuur deur opgewondenheid oor die vrystelling van hulle jongste album, The Speed of Dark. Hierdie heavy metal-veterane van die Suid-Afrikaanse musiek scene smelt toe my gesig af met hul verbysterende vinnige liedjies. Hulle reputasie as legendes word gestand gedoen vanaand.
Die aand word op presies die regte not afgesluit deur ’n vertoning van my persoonlike nuwe gunsteling-band, Black Cat Bones. Dink jou in hoe Creedence Clearwater Revival sou klink indien hulle deur vulkaniese lava aangedryf was en hulle voorsanger elke oggend met lemmetjies gegorrel het – dan is jy net nastenby seker van hoe BCB klink! Hulle klank is die vuilste, en hardste blues wat jy ooit sal hoor, en my hart swel met trots dat hulle ’n klomp Afrikaanse ouens is wat van Pretoria afkomstig is! En en my vriende besluit om Fokofpolisiekar oor te slaan hierdie jaar. Soveel soos dit my pynig om dit te erken, dink ek het ek hulle musiek ontgroei. Dalk nie soseer hul musiek nie, maar hulle vertonings. Wanneer kry ons ’n nuwe album? Dit raak eerlikwaar baie vervelig om hulle jaar na jaar dieselfde 20 liedjies te sien sing op die verhoog. Om die groep gedeeltelik te parafraseer: dit is al soveel jare later, en nou voel als dieselfde.
Vrydag se hoogtepunt was Ska-punk-gunstelinge Fuzigish. Ek het hulle al verskeie kere oor die jare gesien, en wat my altyd byval is die verskriklike positiewe vibes wat hierdie groep musikante uitstraal! Daar is nou maar net iets aan ’n trompet en tromboon wat my vir een of ander onverklaarbare rede uiters gelukkig maak. Maar benewens hul musikale styl en instrumentasie, is hulle boodskap ook positief. Fuzigish is daar om ’n goeie tyd te hê, en wil graag hê dat jy jouself ook moet geniet. Dit is ’n onopgesmukte boodskap, maar ene wat in hierdie moderne era van sperdatums en padwoede en maagsere myns insiens uiters belangrik is om te hoor. Al is dit net elke dan en wan.
Saterdag is die rede hoekom ek, en vermoedelik die meerderheid van die 20 000 sterk Oppikoppi-feesgangers hierdie jaar toegesak het op die plaas. Die Amerikaanse groep Deftones het besluit om uiteindelik Suid-Afrika te besoek! Maar eers is daar ’n hele dag se musiek om deur te werk, beginnende met Guanaco, ’n reggae/hip hop band van Ecuador. Hulle maak dat ek my gat wil swaai. Daarna gaan kyk ons na Shortstraw, wat duidelik ’n geesdriftige groep volgelinge het as ek die skare so bespeur. Tong in die kies liedjies soos "Good Morning Sunshine" (met die koorgedeelte “You’re such a bitch in the morning”) en hul begeesterde ode aan Keanu Reeves maak dat ek van oor tot oor glimlag. Dan is dit Mango Groove se beurt. Voorsanger Claire Johnston raak skoon bewoë toe sy die magdom jongmense – sommige wat nie eers gebore was toe Mango Groove hul merk op die Suid-Afrikaanse musieklandskap begin maak het nie – sien luidkeels saamsing met treffers soos “Hellfire” en “Special Star”. Hulle vertoning laat my werklik voel soos ’n Suid-Afrikaner, en maak my trots op hoe vêr ons al gevorder het as ’n nasie. Wit, bruin, swart en elke moontlike denkbare skakering tussen-in skud toe saam daai aand ons gatte, en dit was hemels!
Dan breek die groot oomblik aan! Ek moet skoon ’n meisie bietjie fees-etiket leer: Wanneer iemand die ganse dag al voor ’n verhoog uitkamp is dit uiterse swak maniere om voor hulle in te druk. As jy so sterk voel oor ’n groep se musiek, dan moet jy vooraf die moeite doen om jou plekkie te verseker en nie ander mense verontrief nie. Nee wat! Nadat ek met haar afgereken het, begin Deftones se vertoning! Deftones se musiek word gekenmerk deur ’n kontras tussen sagte, melodiese verse en skreiende koorgedeeltes wat verf van ’n muur kan af skilfer. Die hele groep speel so perfek in gelid mens sou sweer hulle is een polsende organisme. Voorsanger Chino Moreno verontagsaam op ’n stadium heeltemal sy eie veiligheid en klouter oor die afskorting wat die verhoog van die skare skei. Toe LOOP hy letterlik op die hande van die mense in die gehoor tot om en by so 2 meter van my af, en sing toe binne-in die maalkolk van menslike ledemate. Verskeie snitte van hulle nuuste album Koi No Yokan word uitgevoer tesame met ou gunstelinge soos "Be Quiet & Drive (Far Away"), "Digital Bath", "My Own Summer" en "Change (In the House of Flies)". Dit is brutaal, pragtig, hartseer, afgepis, teer, en alles tussenin. Deftones se musiek omvat basies elke denkbare emosie wat gepaard gaan met die menslike ervaring. Dis verhewe bo blote naamplakkertjies soos “rock” of “alternative”. Dit ís die lewe! Toe hulle na ’n uur en ’n half klaar gespeel het, moes ek gaan sit. Dit oomblik was te groot vir my.
Ek kan nie eers begin om dankie te sê vir die fees se organiseerders nie. Woorde ontgaan my heeltemal. Al wat ek weet, is dat ek my kinders eendag van daardie naweek gaan vertel.

Ek en Gerdus durf die koppie aan

Lindie, Gerdus en ek

Ek, Gerdus en sy broer Stiaan