On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

South Africa

D-dag kruip al nader vir drie beskuldigdes in Joshlin Smith-saak

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 13:00 Sat, 26 Apr 2025

D-dag kruip al nader vir drie beskuldigdes in Joshlin Smith-saak | News Article
Ondanks die verhoor wat einde se kant toe staan, is daar steeds geen duidelikheid van wat met Joshlin Smith gebeur het, waar sy is, of of sy nog leef nie. Foto: X

D-dag kruip al nader vir die drie beskuldigdes in die Joshlin Smith-saak meer as ’n jaar nadat sy na bewering verkoop en ontvoer is. Hulle word aangekla van ontvoering en mensehandel.

Ná weke van getuienis, asook ’n verhoor binne ’n verhoor waarin beslis is dat die beskuldigdes Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn se verklarings toelaatbaar is, het Racquel “Kelly” Smith, haar kêrel Appollis en Van Rhyn aanspraak gemaak op hul grondwetlike reg en gekies om nie te getuig of getuies ter verdediging te roep nie. 

Dit was nadat Smith en Van Rhyn se regsverteenwoordigers aangevoer het dat daar onvoldoende bewyse teen hul kliënte is en dat die staat alle aanklagte moet laat vaar. Daar is ook aangevoer dat daar teenstrydighede in die getuienis van die staat se sleutelgetuie, Laurentia Lombaard, was.

Regter Nathan Erasmus het egter die ontslagaansoeke Woensdag (23/4) in die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Saldanhabaai van die hand gewys. In sy uitspraak het hy gesê dat daar wel bewyse is waarop ’n redelike hof beide Smith en Van Rhyn kan veroordeel en dat daar dus voldoende gronde is om die verhoor voort te sit. 

“Ek het aansoeke van Smith en Van Rhyn ontvang, om in hierdie stadium van die verhoor onskuldig bevind te word. Ek het die argumente van die verdediging, sowel as die vervolging aangehoor.

“Op grond van die feite wat voor my lê, is ek nie van mening dat daar geen bewyse is dat ... ’n redelike hof – in verband met beide Smith en Van Rhyn – hulle sou kon skuldig bevind nie. En om daardie rede word hul aansoek om ontslag geweier,” het hy gesê.

Hy het nie gedetailleerde redes vir sy besluit verskaf nie, maar aangedui dat volledige verduidelikings in sy finale uitspraak ingesluit sal word.

Ná regter Erasmus se uitspraak, het die verdediging van Appollis en Van Rhyn besluit om hul sake te sluit en nie verdere getuienis te lewer nie.

Die verdediging sal nou bloot die slotbetoë betwis wat deur staatsaanklaer Zelda Swanepoel op Dinsdag (29/4) aangebied sal word, sowel as die gronde waarom die staat die drie op die aanklagte teen hulle moet skuldig bevind. Swanepoel moet teen Sondagoggend (27/4) die regter en verdedigingsadvokate van die staat se argumente voorsien.

Joshlin en Kelly Smith. Foto: X

Die staat se saak steun op die getuienis van Laurentia Lombaard in Maart 2025, ’n voormalige medebeskuldigde, wat beweer dat Smith beplan het om Joshlin vir R20 000 aan ’n sangoma te verkoop. Appollis en Van Rhyn het dit na bewering bevestig deur te sê dat Joshlin die dag toe sy verdwyn het, na ’n sangoma geneem is. Sy het al drie beskuldigdes geïmpliseer en haar getuienis het besonderhede ingesluit van ’n argument tussen Smith en Appollis.

Swanepoel het vroeër beklemtoon dat mensehandel ’n proses is, nie ’n enkele handeling nie, en het aangevoer dat daar genoeg bewyse is om die beskuldigdes skuldig te bevind. Die saak gaan voort met slotbetoë wat op 29 April gelewer moet word.

Regter Nathan Erasmus het opgemerk dat indien alles volgens plan verloop, die beskuldigdes hul lot op Vrydag 2 Mei sal aanhoor. Indien hulle skuldig bevind word, veral op die aanklag van mensehandel, sal die minimum vonnis na verwagting lewenslange tronkstraf wees.

Kapt. Wesley Lombard, hoof van die speurdienste en ervare ondersoeker by die polisie se anti-misdaad- ontvoeringseenheid, het getuig hy is van mening dat Appollis en Van Rhyn leuens vertel oor die sangoma, om die werklike omstandighede rondom Joshlin se verdwyning te verdoesel.

Intussen worstel besorgde familielede, vriende en die gemeenskap met talle vrae en steeds geen idee wat met Joshlin gebeur het, waar sy is, en of sy nog leef nie.

OFM Nuus/Corné Greyvenstein

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.