South Africa
Olifante veilig ná ‘onvergeetlike’ reis na nuwe tuiste─── ROBYN SCHUTTE 12:27 Thu, 06 Mar 2025

Vier olifante is suksesvol vrygelaat op die Samara Karoo-reservaat buite Graaff-Reinet nadat hulle van Addo-olifantpark in die Oos-Kaap oorgeplaas is.
Hierdie olifante maak deel uit van ‘n inisiatief om ’n bevolking op ’n nuwe deel van die reservaat te vestig. Die oorgang vorm deel van ’n breër bewaringsinisiatief in Suid-Afrika om die habitat vir olifante uit te brei, en spruit uit Eve Palmer se 1966 boek, Plains of the Camdeboo.
Samara Karoo-reservaat, een van die grootste privaat reservate in die Oos-Kaap, is goed geposisioneer om ‘n toevlugsoord vir hierdie groot diere te wees, te danke aan 27 jaar se samewerking met kundige ekoloë en dierkundiges.
Die reis na Samara was egter nie sonder probleme nie. Die vragmotor wat die olifante vervoer het, was in ’n ongeluk op die N10 by Olifantskop se pas. Die professionele diere-oorgang-, veearts-, vrylating- en Samara-span was teenwoordig om die olifante dop te hou en hul veiligheid te verseker.
Theresa Gibbons, Samara-woordvoerder, sê die veearts het bevestig dat die olifante nie beseer is nie en hulle het op hulle eie, sonder enige sigbare beserings of spanning, van die vragmotor geloop en die reservaat betree. Die olifante sal in die komende dae en weke sorgvuldig gemonitor word om hul gesondheid en welstand te verseker terwyl hulle hervestig in hul nuwe tuiste.
Sarah Tompkins, medestigter van Samara Karoo-reservaat vertel dat hulle ongelooflik dankbaar is dat die olifante veilig is, en dat, ná maande van beplanning, daar nou vier olifante is wat die Samara-landskap bewoon.
Sy vertel dat die veiligheid en welstand van die vragmotorbestuurders en die olifante die span se grootste prioriteit gedurende die hele voorval was. Sy beskryf ook dat die samewerking vanaf nabygeleë wildreservaate en bystanders die situasie vergemaklik het.
“Die kameraadskap van die bewaringsgemeenskap is ongeëwenaard. Ons wil ook die publiek bedank vir hul hartlike boodskappe van ondersteuning en diegene wat deur die padsluiting geraak is, vir hul geduld.”