On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Eerste SA verslag oor geslagsgeweld val saam met ‘16 dae’

───   08:00 Mon, 25 Nov 2024

Eerste SA verslag oor geslagsgeweld val saam met ‘16 dae’ | News Article
Sowat 7,3 miljoen SA vroue was reeds die slagoffer van liggaamlike geweld. Illustrasie: RGN

’n Vrou of meisie word elke tien minute in Afrika deur hul lewensmaat of ’n familielid vermoor.

Dit is ’n bevinding in die jongste verslag van die Verenigde Nasies (VN) oor vrouemoord wat onthul dat 60% van alle vrouemoorde deur ’n lewensmaat of ander familielid gepleeg word.

In die verslag “Femicides in 2023: Global Estimates of Intimate Partner/Family Member Femicides” word onthul die voorkoms van vrouemoorde – die mees ekstreme vorm van geweld teen vroue en meisies – bly wêreldwyd hoog.

Van 25 November tot 10 Desember vat Suid-Afrikaners hande met die res van die wêreld om deel te neem aan die VN se jaarlikse veldtog van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders. 

Plaaslik is die bevindinge van die eerste doelgemaakte Suid-Afrikaanse studie oor die voorkoms van geslagsgeweld in al nege provinsies bekendgestel ’n week voordat die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Geweld teen Vroue op Maandag (25/11) herdenk word.

Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het die afgelope Maandag (18/11) die eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Geslagsgeweldstudie (2022) in Gauteng aan Sindisiwe Chikunga, die minister van vroue, jeug en mense met gestremdhede, oorhandig en aan die publiek vrygestel.

Die verslag skets die voorkoms van fisieke, seksuele, emosionele en ekonomiese geweld, en sielkundige mishandeling soos die beheer van gedrag onder jeugdiges en volwassenes. Die studie ondersoek ook die pleeg van geweld deur mans teen hul vroulike maats en die onderliggende rol van geslagsnorme in die bestuur van geslagsgeweld. 

Die resultate verskaf bied bewyse en bevestiging van die patrone van geweld teen vroue in die land. Die studie se bevindinge dra by tot die begrip van die lewensloop van viktimisering en oortreding in Suid-Afrika.

Hierdie deurslaggewende studie verskaf insigte oor geslagsgeweldvoorkoms, risikofaktore en impak landwyd, wat ’n grondslag vorm vir doelgerigte oplossings.

Dit dien ook as ’n noodsaaklike bron van inligting vir die regering, navorsers, akademici, die burgerlike samelewing, ontwikkelingsvennote, beleidmakers en praktisyns. Die studie verteenwoordig ’n stap vorentoe en verskaf empiriese bewyse oor geslagsgeweld in Suid-Afrika. Die data is ’n belangrike bron om vordering in die bekamping van dié misdade in Suid-Afrika na te vors, soos uiteengesit in die nasionale strategiese plan daaroor. 

Die studie stel die land in staat om skattings oor voorkoms te rapporteer wat vergelykbaar is met ander lande wêreldwyd, wat reeds die Wêreldgesondheidsorganisasie se erkende benadering vir die meting van geslagsgeweld aanvaar het.

Die RGN het ’n beroep op Chikunga en haar adjunk, Mmapaseka Steve Letsike, gedoen om ’n langtermyn-holistiese benadering te vind om geslagsgeweld te bekamp en om ook ingrypings te implementeer wat sielkundige en maatskaplike gedragsfaktore aanspreek.

Nompumelelo Zungu, adjunk- uitvoerende direkteur van die RGN, het daarop gewys in die studie is bevind 33,1% van alle vroue in Suid-Afrika van bo 18 het al fisieke geweld ervaar.

“Dit kom neer op ’n geskatte 7 310 389 vroue wat fisieke geweld in hul leeftyd ervaar het. Lewenslange fisieke geweld was aansienlik hoër onder swart vroue, met 35,5%, in vergelyking met vroue van ander rassegroepe,” het sy gesê.

Ter bevordering van bewustheid het Chikunga verder aangekondig dat haar departement verantwoordelik sal wees vir die integrasie van die studie se bevindinge in die nasionale strategiese plan oor geslagsgeweld en vrouemoord. 

“As die bewaarder van vroue-, jeug- en gestremdheidsake sal ons departement hierdie bevindinge integreer om beleidstellings in te lig en die nasionale strategiese plan oor dié misdade te versterk, met die klem op gemeenskapsbetrokkenheid en datagedrewe ingryping,” het Chikunga gesê.

Die studie is ’n basislyn van waar meer navorsing op mikrovlakke gedoen sal word, en sy sê een van die eerste optredes is om alle waardes en praktyke in die opvoedkundige, godsdienstige, kulturele, sport- en kreatiewe omgewing uit te daag en om die stryd te ondersteun teen patriargie en chauvinisme in alle sfere van die lewe.

OFM Nuus cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.